Eerstejaarskonsert bring topklas toneel en musiek na die voorgrond
Die 2024 NWU Eerstejaarskonsert was ‘n kaleidoskoop van kleur en klank met unieke temas wat vir grootskaalse vermaak op twee onvergeetlike aande gesorg het.
Vanjaar se Eerstejaarskonserte het vanaf 15-16 Maart in die NWU Ouditorium plaasgevind met 14 koshuisslepe wat vir die titel gekompeteer het.
Maande se harde werk het in die hierdie produksies ingegaan wat ‘n kombinasie van musikale verwerkings en eie komposisies ingesluit het. Natuurlik was die toneelspel met komedie en drama gevul wat die algehele tema’s nog meer ingekleur het.
Foto’s: Wouter Pienaar
Elke sleep moes ook hul improvisasie wys met elkeen wat ‘n unieke item gehad het. Toneelspelers moes kreatief wees met onder andere ‘n pool noodle, ‘n krieketkolf, koelboks, vuvuzela en nog vele meer. Op die ou einde het Wag-‘n-Bietjie Dameskoshuis en Patria Manskoshuis die titel gewen met hulle unieke vertolking wat elemente van sprokies soos Alice in Wonderland met Liewe Heksie gekombineer het. Dit is nie verbasend dat hierdie sleep gewen het nie, aangesien hulle ‘n luide en staande applous gekry het. Die toneelspel was puik en die karakters treffend.
Die liedjies het ook die algehele tema goed versterk met die dans en choreografie wat ook uitgestaan het.
Talle ondersteuners het ook die twee aande se verrigtinge bygewoon:
Heide en Hombré neem die tweede plek met Kasteel en Soetdorings wat derde kom. Bellatrix en Excelsior sowel as Dinki en Veritas, deel die vierde plekke.