Local news

Eerlike werknemer van Pick n Pay is kliënt se held

‘n Skerp oog, ‘n goeie hart en ‘n begeerte om sy medemens te help was al die bestanddele wat nodig was vir ‘n werknemer van Vanderhoff Park Pick n Pay om ‘n Potchefstroomse vrou se angstige ervaring in verligting en dankbaarheid te verander.

Toe Sanet Vermeulen Vrydagmiddag, 8 Maart haar pienk beursie en selfoon in hierdie Pick n Pay verloor het, het sy gedink dat sy dit nie sommer vinnig weer sou sien nie.

“Ek was die dag haastig omdat ons gaste gehad het en ek nog inkopies moes doen na werk. Ek onthou my beursie was onder my arm, en toe ek weer sien was dit weg,” sê Sanet.

Sy het in haar benoudheid vir Tshepo Phamodi (36), wat by die groente en vrugteafdeling van hierdie Pick n Pay werk, gevra of hy dit nie gesien het nie. Hy het toe genoem dat hy intussen sal help soek.

Tshepo Phamodi wys waar hy Sanet Vermeulen se beursie opgespoor het.

Sy is na haar kar in die parkeerterrein, maar haar beursie was nie daar nie. Sy is ook na haar kantoor op die NWU kampus, maar daar was geen teken daarvan nie. Gelukkig kon sy los kontant in haar kantoor se laai opspoor waarmee sy haar kruideniersware kon betaal. Sy het toe besluit om terug te gaan Pick n Pay toe om haar inkopies te betaal. Toe sy terugkeer het Tshepo haar beursie opgespoor en dit veilig by die kiosk ingegee.

“Ek kan nie vertel hoe dankbaar ek was toe Tshepo dit gevind het nie. Ek het so hard gebid dat niemand my kaarte sou gebruik en geld onttrek nie. My selfoon was ook in my beursie. Ek het gevra dat die Heilige Gees op ‘n bonatuurlike manier my bankkaarte veilig hou,” noem sy.

Sanet vertel dat Tshepo se goeie hart en eerlikheid net weer ‘n bewys is dat daar mense is wat omgee en die ekstra myl stap. “Ek kon sy simpatie sien toe hy hoor dat my beursie weg is. Hy wou regtig help en het my baie moeite gespaar. “Hy was die regte persoon op die regte plek. Hy en die dames by die kiosk wat my besittings so mooi opgepas het, is helde,” noem Sanet.

Sanet Vermeulen is verheug dat Tshepo Phamodi, ‘n werknemer van Vanderhoff Park Pick n Pay haar beursie Vrydag, 8 Maart in die winkel opgetel en aan haar terugbesorg het. Foto: Wouter Pienaar

Tshepo vertel dat hy Sanet se beursie op die grond langs die groenterak gevind het. Die beursie het tussen ‘n paar waterlemoene op die vloer gelê.

“Dit was net daar en gelukkig kon ek dit betyds raaksien. Ek is bly ek kon help,” noem hy met ‘n glimlag.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button