Local news

Verwoestende waterlek in Witstinkhoutlaan uiteindelik herstel

"Ons het gewen," sê Mariana Strydom, inwoner in Witstinkhoutlaan.

“Dit het begin as ‘n klein kolletjie water in die middel van die pad.”
So vertel Johan en Mariana Strydom, inwoners in Witstinkhoutlaan nadat die pad deur ‘n aanvanklik onbenullige waterlek in ‘n 4×4-baan verander is.

Die Strydoms het bande gepak om die pad te probeer beskerm. Foto: Cornelia Hitge.

“Die waterlek het vinnig groter geword, waarna ons dit aan ons wyksraadslid gerapporteer het.” Johan noem dat die wyksraadslid bevestig het dat dit aan die munisipaliteit gerapporteer is.
Mariana verduidelik dat die waterlek so ernstig geword het dat voertuie en die vullisverwyderingstrok wat deur dit gery het, die teer beskadig het. “Die teer het heeltemal meegegee.”

Die teer is verbrokkel en beskadig. Foto: Cornelia Hitge.

“Ons het ‘n kar se buitebande daar gepak om die pad te probeer red, waarna die ander kant van die pad natuurlik beskadig is. Dit het in ‘n dam verander en ons het dit met grond opgevul. Dis beter om deur modder as ‘n dam te ry,” voeg Mariana by.
Johan vertel verder dat die erns van die waterlek eers werklik besef word wanneer ‘n mens besef dat die lek net meer as ‘n maand oud is.
“Geen inwoner kan by hul erf inry sonder om deur water te ry nie,” sê Mariana en wys uit dat twee strome water aan weerskante van die pad vloei.”
“Inwoners het hul eie planne begin maak met die lek,” sê Mariana verder en verduidelik dat mense aan die ander kant om ry om die lek te vermy. Sommige inwoners kan egter nie en moet daardeur ry.
“Veral die vullisverwyderingstrok moet hier ry om inwoners se vullis op te laai. Dit kan nie die gat vermy nie en dit maak die gat net al dieper.”Mariana voeg by dat die water wat permanent in die pad afloop die teer se oppervlak beskadig. “Wie gaan die teer herstel en wanneer gaan dit gebeur?” vra ‘n raadop Mariana.
Johan voeg by dat dit skoon water is wat so mors en beduie na die water.
“Dit vloei so sterk dat mens met die blote oog kan sien hoe vorm dit stroompies. Dit is nie dat dit stilstaan of stadig maar seker in die pad afvloei nie. Dit stroom sterk hier uit. Ek het aangeneem dat dit ‘n lek in die hoofwatertoevoerpyp moet wees aangesien dit so sterk vloei,” verduidelik Johan.
Witstinkhoutlaan se inwoners was verras om Dinsdagoggend, ‘n dag nadat die Herald die waterlek besoek het, ‘n wit vragmotor op te merk saam met ‘n span wat begin het om die lek te herstel.

Die span wat die gate kom regmaak het. Foto: Cornelia Hitge.

“Ons is so bly,” sê Mariana. ‘n Mens sien oral net modder spat soos wat hulle die lek regmaak.
“Ons het gewen,” bevestig Mariana bly.
* Teen druktyd het JB Marks munisipaliteit steeds nie op die Herald se versoek om kommentaar gereageer nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button