Local news

Trane van blydskap vir NWU stapper na sy besering oorwin en SA titel inpalm

'n Besering het vir die NWU se kampioenstapper, Marissa Swanepoel, vir 8 maande op die krukkelys gehou, maar op Saterdag, 2 Maart het sy met 'n nuwe persoonlike beste tyd die SA-titel in merkwaardige omstandighede verower.

‘n Langtermyn besering van agt maande het die NWU stapper, Marissa Swanepoel in 2023 gekniehalter sodat sy nie haar SA-titel kon verdedig nie.

Die enigste manier vir Swanepoel om te bewys dat sy weer op die regte spoor is, was om tussen die groot honde op die grootste verhoog te blaf.

By die 2024 SA Stapkampioenskappe in Kaapstad op Saterdag, 2 Maart, het Swanepoel soos die wind gestap en weer die SA-titel in die 20km stapwedloop gewen. Wat die oorwinning en terugkeer meer spesiaal maak, was dat sy haar eie persoonlike beste tyd verpletter het.

Die NWU stapper, Marissa Swanepoel, is die nuwe SA kampioen in die vroue 20km stap.

Haar vorige beste van 1:44:28 was gou ou nuus toe sy die wenstreep in 1:43:01 bereik het.

‘n Kniebesering het vir Swanepoel, die 2022-kampioen, die geleentheid ontneem om haar SA staptitel in 2023 te verdedig. Uit die teleurstelling, kon sy egter ‘n nuwe hoofstuk skryf – Marissa: Hoofstuk 2, beter as ooit.

“Ek het ‘n fantastiese wedloop gehad Saterdag. Ek het eers onlangs weer na my besering begin oefen so dit was baie onverwags om ‘n nuwe persoonlike beste tyd te bereik,” vertel hierdie vierde jaar BEd student.

Marissa Swanepoel (middel) saam met Jessica Groenewald (links) en Althea Taylor (regs). Swanepoel is die nuwe SA 20km stapkampioen.

“Ek het geweet ek gaan harde maar goeie kompetisie hê. Ek het opgedaag en net by myself gedink hoe dankbaar ek is om net hierdie jaar te kan deelneem. Ek het die jaar net besluit om my beste te gee, en om vir myself te bewys dat ek weer terug is. Ek is baie dankbaar oor die wen,” noem sy verder.

Jessica Groenewald van ACNW is tweede in hierdie wedloop in ‘n tyd van 1:45:30. Althea Taylor van die Westelike Provinsie kry brons in ‘n tyd van 1:47:27. Janise Nell (ACNW), die oud-Volkie, is vierde in 1:49:45.

Swanepoel vertel dat sy en haar afrigter, Carl Meyer, hard gewerk het op fisiese en emosionele vlak die afgelope vier maande om haar weer op haar beste te kry.

Marissa Swanepoel (links) saam met haar afrigter, Carl Meyer. Althea Taylor (WP), nog een van Meyer se atlete, was derde.

“Ek het van die begin af baie goed gevoel in die wedloop en het net besluit dat ek my lyf gaan druk tot die einde en wat ookal die resultaat is, die Here se wil is. Ek het dit in Sy hande gelos en baie oor die wedloop gebid.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button