SportSport

Potch-Dorp vier 125 jaar in styl

Potch-Dorp Rugbyklub se geskiedkundige 125 verjaarsdagvieringe was een vir die boeke. Nie net was daar titaniese rugbywedstryde op die velde van weleer nie, maar daar was ook ‘n historiese seremonie na die tyd waar oud-spelers, afrigters en bestuur staaltjies van die klub se merkwaardige bestaan gedeel het. Daar was ook talle oud-aandenkings en foto’s wat …

Potch-Dorp Rugbyklub se geskiedkundige 125 verjaarsdagvieringe was een vir die boeke.

Nie net was daar titaniese rugbywedstryde op die velde van weleer nie, maar daar was ook ‘n historiese seremonie na die tyd waar oud-spelers, afrigters en bestuur staaltjies van die klub se merkwaardige bestaan gedeel het.

Daar was ook talle oud-aandenkings en foto’s wat nostalgie by almal opgebring het. By hierdie feesvieringe het mnr. James Stoffberg namens die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SARU) ook ‘n gedenkplaat aan die klub oorhandig.

Die voorsitter van Potch-Dorp Rugbyklub, dr. Jan Janse van Rensburg het ook almal bedank en met trots gesê dat hierdie klub na al die jare steeds  spesiaal bly.

“Dit is werklik ’n wonderlike oomblik en ’n voorreg om voorsitter van hierdie klub in sy 125ste bestaansjaar te wees. Nou vir die volgende 125 jaar!” het hy gesê.

Voor dié feesvieringe het twee goeie wedstryde plaasgevind. Potch Dorp se tweede span het teen Mafikeng 1 te staan gekom en hulle met 43-19 afgeransel, nadat Dorp in die tweede helfte ontwaak het. Potch Dorp se fiksheid was baie beter en danksy agtsteman, Armand du Preez, se driekuns was die wedstryd Dorp s’n om te vier. Michael Fulton (twee drieë) en Ferro van Greunen, het die ander drie gedruk.

Die eerstespanstryd tussen Potch-Dorp en Vryburg was rateltaai met eersgenoemde wat na ‘n halftydagterstand van 0-17 goed teruggeveg het. Op die ou einde het Vryburg net-net met 27-26 gewen. Vryburg was die gunsteling en het op Dorp se foute toegeslaan met Noppie Jacobs en Weyers du Plessis wat onder die pale in die eerste helfte gaan druk het.

Rynard Brits was een van die sterre op losskakel en het twee besonderse drieë gedruk. Lesley Koekemoer en Michael Peterson het die ander drieë gedruk. Albert Griessel het twee verdoelings oorgesit vir Potch-Dorp.

Potch-Dorp se kaptein, Ruveix de Bruyn en spanmaat Peterson, is met geelkaarte afgestuur wat dit ook ontsettend moeilik vir die tuisspan gemaak het. Daar moet wel vermelding aan die stutte, Niel Pretorius en Erhardt de Villiers gegee word, nadat hulle eers die voorafgaande week geleer het om stut te speel.

Die twee eerste keuse stutte was nie vir die wedstryd beskikbaar nie. Dit was ’n puik poging waar hulle met tye die Vryburg-manne onder groot druk geplaas het.

Kyk die foto’s hier: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/13444/fotos-potchefstroom-dorp-rugbyklub-herdenk-125-jaar/

Related Articles

Back to top button