Local newsNewsNews

80-jarige Potchefstromer oorval en beroof

Prof Izak Oosthuizen is deur vier voetgangers oorval nadat hy vir 'n laatmiddag-stappie gegaan het.

Prof Izak Oosthuizen, ‘n 80-jarige Potchefstromer, is Vrydag, 29 Desember met ‘n mes aangeval en beroof.

Prof Oosthuizen, wat al sedert 1988 in Potchefstroom woonagtig is, het in Gerickestraat afgestap waarna hy in vier mans vasgeloop het en oorval is.

“Ek was by sewe en nege Gerickestraat toe vier knape van voor af aangestap kom,” weer haal Prof Oosthuizen die gebeure aan. Hy verwys na die aanvallers as Nommer een tot vier, en vertel die gebeure verder. “Nommer een het baie naby aan my verbygeloop en skrams aan my pinkie geraak. Ek draai toe na hom en hy vra of ek vir hom twak het.”

Prof Oosthuizen erken dat sy aandag deur die aanvraag afgetrek is, en onthou dit was die oomblik wat Nommer Een hom aangeval het. “Hy het my selfoon deur my broeksak gegryp. Ek keer toe met my arm, en hy pluk ‘n mes uit waarna ek op die grond beland het.

“Dit is snaaks hoe die goed werk, met adrenalien, ek het nie eens die snye gevoel nie. Ek kon voel daar gaan iets aan, maar dit was nie seer nie.”

Prof Oosthuizen sê verder dat hy spoedig besef het hy is aan die verloorkant, en het om hulp begin skree.

“Ek lê toe en skree ‘Help, help my’, en toe kom Nommer Twee en druk my mond toe. Daarna het ek my foon laat gaan.”

Prof Oosthuizen vertel ook dat die inwoners hom bygestaan het en sy seun en skoondogter, wat in die omgewing bly, van die voorval in kennis gestel het.

Sy seun en skoondogter het hom Mediclinic toe vervoer, waar hy behandeling vir skaaf- en snywonde ontvang het. Die Professor het weggestap met ‘n gat in sy elmboog, ‘n stukkende kopvel, en 14 steke.

Prof Izak Oosthuizen vertel dat hy geen kwade gevoelens oor die aanval het nie. Foto: Cornelia Hitge.

Dit is egter nie die eerste keer wat die Oosthuizen-gesin deur aanvallers geteister word in die gebied nie. Prof Oosthuizen het in 2023 aan Die Herald vertel dat sy dogter en kleinseun in Kareelaan aangeval is.

Hy noem ook dat dit die einste aanval op sy gesin, asook die weduwees in die omgewing is wat hom aangespoor het om laatmiddae deur die omgewing te stap. “Daar is ‘n WhatsApp-groepie waarop ek kan plaas wat ek gesien het, en dis ‘n manier om die weduwees gerus te stel voor hul gaan slaap.”

“Die Achilles heel van die omgewing,” vertel Prof Oosthuizen met erns, “is die karnallies wat onwettig oor die N12 stap, deur die gebreekte beton-heining, oor die treinspoor klim en dan deur die hekke (in Soetdoringstraat) loop in die omgewing in.” Prof Oosthuizen is raadop oor die situasie, “Ek baklei al vanaf die negentigerjare oor daardie hekke wat alewig oopstaan.”

“Die ongelooflike omgee onder daai mense vir mekaar bring ‘n knop in die ou man se keel,” meen Prof Oosthuizen. “Ek wil Mooirivier Beskerming ook bedank. Dit was ‘n vingerklap en toe is hul daar.”

Prof Oosthuizen sê verder dat hy geen kwade gevoelens oor die aanval in hom saamdra nie.

“Ek is kwaad vir niemand nie. Kyk in my oë, ek is vrygespreek.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button