Local newsNewsNews

Potch Hospitaal gee terugvoer oor pasiënt se bedseer-klagte

Donovan van Coller se wonde het verbeter by die huis onder behandeling. Sy vrou moes ‘n familielid vra om haar man se wonde te versorg.

Die Herald het in die uitgawe van 16 November berig oor ‘n man, Donovan van Coller, wat volgens sy familie bedsere in Potchefstroom Hospitaal opgedoen het.

Die hospitaal se woordvoerder, Modiri Mompati het die afgelope week terugvoer aan die Herald verskaf rakende Van Coller se tydperk as pasiënt by die hospitaal, sowel as die redes
waarom hy bedsere kon opdoen.

“Die pasiënt is op 23 Augustus in Potchefstroom Hospitaal opgeneem toe hy verlamming in sy liggaam gevoel het. Hy is ook ‘n swaar roker en het hipertensie en vetsug.

“Wat hierdie pasiënt spesifiek betref, is hy meer geneig tot die ontwikkeling van bedsere as gevolg van bogenoemde gesondheidskwessies. Sy risiko van bedsere is hoër as dié van individue sonder dieselfde gesondheidskwessies.”

Volgens Mompati is die standaardbehandeling van ongekompliseerde bedsere die gereelde skoonmaak en aanwending van antiseptiese verbande. Ingewikkelde bedsere kan ingryping
van ‘n chirurgiese span vereis.

“Die pasiënt is nie uit die hospitaal ontslaan nie, hy het eintlik aangedring om huis toe te gaan teen die advies van die dokters wat nog die bedsere by die hospitaal wou behandel. Die pasiënt het geteken dat hy nie verdere hospitaalbehandeling wou ontvang nie.”

Van Coller is op 9 November ontslaan, maar het ook in die afgelope week teruggekeer na die
hospitaal sodat dokters hom op ‘n drip kon sit omdat hy ontwater het.

Sy vrou, Christa, noem dat sy wonde verbeter het by die huis onder behandeling. Sy moes ‘n familielid vra om haar man se wonde te versorg.

“Omdat hy nie verbetering gesien het in die hospitaal nie en moedeloos was, het hy homself daardie tyd ontslaan. Ek sou ook as ek in sy posisie was. Ek voel steeds dat die hospitaal nie hulle werk gedoen het nie, omdat hy bedsere ontwikkel het. Dit kon vermy geword het.”

Related Articles

Back to top button