SportSport

Suksesvolle swemseisoen vir NWU-Junior Swemklub

Swemmers en ouers van die NWU-Junior Swemklub glimlag tans breed oor die klub se prestasies tydens die afgelope seisoen, maar meer nog oor klublede se vertonings tydens die jaarlikse nasionale- en streekskompetisies, wat klubgebaseerd aangebied is. Tydens die Vlak 3 nasionale swemkampioenskappe in Port Elizabeth wat van 18 tot 22 Maart gehou is,  het Van …

Swemmers en ouers van die NWU-Junior Swemklub glimlag tans breed oor die klub se prestasies tydens die afgelope seisoen, maar meer nog oor klublede se vertonings tydens die jaarlikse nasionale- en streekskompetisies, wat klubgebaseerd aangebied is.

Tydens die Vlak 3 nasionale swemkampioenskappe in Port Elizabeth wat van 18 tot 22 Maart gehou is,  het Van Zyl Brand ‘n silwermedalje in die 200m rugslag behaal deur net-net die knie te buig voor Tom Donker van Zambië. Hy het egter met sy tyd van 2:08.64 beide die 11 jaar-oue NW ope-rekord en die -ouderdomsrekord verpletter en vir die nasionale senior swemkampioenskappe in beide die 200m en 100m rugslag items (waar hy ‘n 6de plek behaal het) gekwalifiseer.

Tydens die Vlak 2 nasionale streekskompetisie wat van 28 tot 31 Maart op Ellispark gehou is, het die Pukkies hulself ook deeglik laat geld. Medaljewenners was Juandrè Uys (goud, 100m borsslag en brons, 200m borsslag), Lionel Moss (brons, 50m kruipslag), Reynard Rossouw (brons, 50m rugslag) en Alexia Duarte (brons, 50m vlinderslag) terwyl Retief Esterhuysen, Tiaan Rossouw, Alyssa Norman en Clarissa Liebenberg ondersteuners die asem laat ophou het in etlike finale rondtes, wat beteken dat hierdie swemmers in verskeie items onder die top 10 in hul ouderdomsgroep geëindig het.

Tydens die Vlak 1 nasionale streekskompetisie in Germiston wat van 1 tot 3 April gehou is, het Janco Uys (goud, 200m borsslag en brons, 100m borsslag), Jessica Bezuidenhout (brons, 50m vlinderslag) en Angeleah Moss (brons, 100m vlinderslag) die podium betree, terwyl Aiden Nel, Anica Dennis, Jeannè van der Merwe en Aimee Piketh ook gereeld na finale rondtes deurgedring en uitstekende tye opgestel het. Die dogters-aflosspan, bestaande uit Angeleah Moss, Aimee Piketh, Jessika Bezuidenhout en Anica Dennis het ook  brons verower in ‘n uiters spanningsvolle 4x50m wisselslagaflos.

Tydens die Nedbank nasionale kampioenskappe vir fisies-gestremde atlete wat van 18 tot 24 Maart in Bloemfontein gehou is, het Michelle Bloem sewe goue medaljes ingepalm en tegelykertyd in al hierdie items die Suid-Afrikaanse rekord verbeter.

Klubswemmers is nog by twee groot byeenkomste betrokke. Danita Blokker is gekies om vanaf 20 April aan die Cana Sone III en IV-swemkampioenskappe in Mauritius deel te neem. Dan vind die Suid-Afrikaanse nasionale swemkampioenskappe vanaf 10 tot 16 April in Durban plaas.

Hierdie gala is die vertoonlokaal van die land se topswemmers en dien ook vanjaar as proewe vir die Olimpiese Spele.

Die kampioenskappe het ‘n junior en senior komponent, asook ‘n afdeling vir paralimpiese swemmers. Vier lede van die klub het hiervoor gekwalifiseer, naamlik Willie Scheepers, Michelle Pistorius, Van Zyl Brand en Michelle Bloem.

Die meeste klubswemmers geniet reeds ‘n welverdiende ruskansie tot in Mei, wanneer die winterprogram by die verhitte swembad van Potchefstroom Girls’ High afskop.

Belangstellendes wat in die nuwe swemseisoen wil deel word van dié dinamiese swemklub, kan Albie Brand by 082 578 7053 of Willie Scheepers by 073 339 6928 kontak.

Related Articles

Back to top button