Local newsNewsNews

Verligting na maandelange rioolplaas-besoedeling

DA wyksraadlid Heinricha Hodgson en Potch inwoner Friedemann Essrich is verlig nadat opgraderingswerk by Chris Hani pompstasie begin is, asook onderhoudswerk by die rioolplaas om die riool-oorlopings te beheer.

Vir verskeie maande is daar probleme in die Potchefstroom omgewing wat deur riool-oorlopings by die rioolplaas veroorsaak word. By die rioolplaas self hang die reuk van verrotte vegetasie in die lug. Dit word veroorsaak deur die watervloei-kanale wat nie skoongemaak en onderhou word nie.

Tekens van riool-oorblyfsels is sigbaar op die modder.

“Die kanale moet skoongemaak word voor die groot seisoen-reëns kom,” sê Heinricha Hodgson, wyksraadslid van wyk 5. Heinricha en Friedemann Essrich, ‘n inwoner in die omgewing, het reeds redelik tyd spandeer om uit te vind hoe die rioolplaas-sisteem werk en watter impak dit op die omgewing het wanneer die sisteem nie onderhou word nie.

Die rioolplaas-sisteem is opgestel met klomp natuurlike damme waar die gryswater gefiltreer word voor dit terugloop in die Mooirivier. Daar is kanale wat hierdie watervloei beheer. “’n Tyd nadat die plaas so uitgelê is het watervoëls in die damme kom bly en broei. Hierdie damme se watervlak is op verskillende hoogtes, en verskillende watervoëls broei by hierdie damme aangesien hulle ‘n sekere watervlak nodig het om te kan broei,” vertel Heinricha. “As die watervlak te hoog is, broei die voëls nie. Tydens die vlak vyf en ses beurtkrag wat Potchefstroom in September ervaar het, het die damme se vlakke gelig en die voëls is weg. Dit is ‘n groot probleem aangesien die ekostelsels versteur word.”

Alhoewel voëls steeds gesien kan word by die rioolsuiweraars, broei hul nie meer in die natuurlike damme soos voorheen nie.

‘n Gesondheidsrisiko wat verband hou hiermee is die riool-oorlopings in die Mooirivier. Tydens beurtkrag vlakke vyf en ses word die watertafels nie reg gereguleer nie, en riool loop in die Mooirivier in. Infrastruktuur by die Chris Hani pompstasie wat nie onderhou word nie speel ook ‘n rol in die oorloping van riool.

Friedemann Essrich verduidelik dat hierdie pyp die riool-oorloop is. Indien die riool oorloop vloei dit deur hierdie pyp direk in die damme in.

Heinricha sê dat opgraderings by Chris Hani pompstasie om rioolvloei te beheer en oorvloei te verhoed besig is om plaas te vind. Nuwe pompe word by die Chris Hani pompstasie geïnstalleer wat ‘n positiewe impak op die riool-oorvloei sal hê. Friedemann las aan dat ‘n siftingstoestel by Chris Hani pompstasie geïnstalleer gaan word wat sal help om oorvloei te beheer. Daar gaan ook ‘n skipper verskaf word waar plastiek en ander afval wat deur die siftingstoestel opgevang word by die pompstasie in gegooi kan word en blokkasies verminder.

Dit blyk dat na vele besoeke deur Heinricha en Friedemann, asook ‘n waterwese beampte, aan die rioolplaas, is daar werk gemaak om die kanale skoon en oop te maak sodat watervloei gereguleer kan word.

Die JB Marks Munisipaliteit kon nie bereik word vir kommentaar nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button