NewsNews

Genoeg water vir Potchefstroom tot volgende reënseisoen

“Ons sal genoeg water hê tot die volgende reënseisoen, mits ons by die waterbeperkings hou," sê Frans Le Roux.

“Ons sal genoeg water hê tot die volgende reënseisoen, mits ons by die waterbeperkings hou.”
So sê mnr. Frans le Roux van Departement Water en Sanitasie oor die watertekort wat Potchefstroom en die res van die land tans teister.
Volgens Le Roux is Potchefstroom in ‘n bevoordeelde posisie omdat Boskop Dam, wat ons hoofwaterbron is, meestal gevoed word deur dolomitiese grondwaterbronne, so al is daar droogte, gaan daar altyd water in die dam inloop.
“Dit beteken nie ons moet lukraak water gebruik nie, want ons weet nie wat moontlik in die toekoms kan gebeur nie. Die waterbeperkings is daar om versigtig te wees,” sê hy.
Le Roux verseker die inwoners dat die Departement Water en Sanitasie die stand van die damme goed dophou en ook seker maak dat die damme wat die stad voed, op standaard bly.
“Ons het relatief baie water in vergelyking met die ander dorpe in die Noordwes,” sê hy.

Boskop Dam het van November 2015 drasties begin sak.
Boskop Dam het van November 2015 drasties begin sak.

Tog is die droogte ‘n realiteit, alhoewel Potch- en Boskop Dam dit nie duidelik wys nie weens die bydrae van die dolomitiese grondwater. Le Roux sê dat daar tans nie vasgestel kan word of die huidige droogte dieselfde gaan wees as die droogtes wat in die middel 80’s of 90’s plaasgevind het nie. “’n Mens sal eintlik eers einde Januarie 2017 kan sien waarna die droogte neig,” sê hy.
“Alhoewel ons nou staatmaak op dolomitiese grondwater om Boskop Dam op standaard te hou, kan ‘n mens duidelik sien hoe die dam gesak het weens die droogte. Die laaste keer wat die dam so laag was soos nou, was in 1996 toe die dam maar 50% water gehad het. Die dam staan nou op 68.7%.

Die stand van die damme soos gemeet op 11 April 2016.
Die stand van die damme soos gemeet op 11 April 2016.

“As jy kyk na die stand van die dam, sal jy duidelik kan sien waarom ons die situasie met groot omsigtigheid moet bestuur en nie water net lukraak moet gebruik met die hoop op ‘n moontlike goeie komende reënseisoen nie,” waarsku hy.
Le Roux verduidelik dat Potchefstroom met die huidige hoeveelheid waterverbruik, genoeg water sal hê tot die volgende reënseisoen, maar net indien inwoners die waterbeperkings nakom.

Related Articles

Back to top button