Local newsNewsNews

Slenteraars doring in inwoners se vlees

Daar is gereeld voetgangers, slenteraars en misdadigers wat onwettige toegang deur die gebreekte beton verkry, oor ‘n spoorlyn loop, en in die woongebied in.

In Soetdoringstraat, suid van die woonbuurt, is daar twee draadhekke wat permanent oopstaan. Deur die hekke en oor die kanaal is ‘n oop gebied wat aan die N12 grens. Alhoewel die gebied met ‘n betonheining omring is, is die beton op verskeie plekke afgebreek.

Daar is gereeld voetgangers, slenteraars en misdadigers wat onwettige toegang deur die gebreekte beton verkry, oor ‘n spoorlyn loop, en in die woongebied in. Min Potchefstromers is bewus van die konstante probleem wat inwoners in dié area daagliks in die gesig staar.

“Daar beweeg met gemak tussen 500 en 700 persone heen en weer vanaf die N12 oor die spoorweg, in Soetdoringstraat, om dan via Smitstraat by die werk uit te kom,” sê Madra de Bruin, wyksraadslid van wyk 15. De Bruin verduidelik dat hierdie vrye beweging tussen die woonbuurt, ‘n redelike beboste veld, en die N12 dit baie gerieflik maak vir diewe om weg te hardloop met wat hulle van inwoners en besighede in die omgewing kon steel. De Bruin wys na die ontblote spoorlyn wat langs die beton-heining geleë is, en merk op dat so ‘n ontblote spoorlyn gevaarlik is. Danie Stoop, ‘n inwoner in die area, vertel dat daar met tye mense in die veld woon. In hierdie gevalle maak die mense vuur, en was wasgoed in die kanaal. “Daar is geen ablusie geriewe in die area nie en die kanaal is ‘n gevaarlike stroom water,” sê hy.

‘n Voetganger loop vanaf die N12 deur ‘n gat in die betonheining en urineer in die veld.

Prof. Izak Oosthuizen vertel ‘n baie donkerder verhaal. “Op 23 Julie vanjaar, omstreeks 17:50 is my dogter, Annalet Fourie, en kleinseun, Izak Fourie, in Kareelaan aangeval. “Ons het in Kruisstraat afgeloop en ‘n man het verby ons geloop,” vertel Fourie. “My seun het gesê ‘Mamma, die man lyk suspect’. Ek kyk toe om en sien dat die man ‘n mes in sy hand het.” Die Fourie’s was in Kareelaan toe die man op hulle afstorm. “Sy mes was reg om te steek. Hy het gevra vir my foon, en ek het dit oor die heining, op die hoek van Kareelaan en Gerickestraat gegooi. Ek het my handsak in die volgende erf gegooi. Die man het aanhou storm vir my foon, daar was ‘n vrou saam met hom wat na my handsak gegryp het. Elke keer wanneer hulle nader gekom het, het ons op hulle afgestorm,” onthou Fourie.

Fourie se seun het genoeg gehad en op die man afgestorm. Die man het sy mes gelig en haar seun probeer steek.

In die oomblik het Fourie, “I rebuke you in the name of Jesus.” geskree. Sy glo dat die Here die man gekeer het. “Die man het met sy mes in die lug omgedraai en weggehardloop.”

In die veld self lê daar hope gebreekte bottels en ander gemors. “Ons het nodig om dringend hierdie toeloop van vreemdelinge in die area stop te sit,” sê De Bruin.“Ek het reeds in die vorige finansiële jaar aansoek gedoen met die beloofde wyksfondse, vir ‘n baie stewige hek, ‘n motor, ‘n kamera en solar ligte. Ongelukkig, ten spyte daarvan dat al die prosedures gevolg is, is daar net geen terugvoer van die vordering van die aansoek nie,” vertel sy.

De Bruin wil die hek gebruik om die ingang in Soetdoringstraat toe te maak, en die vloei van voetgangers te stop. Die lig sal gebruik word sodat patrollievoertuie in die aand daar kan sien. Die munisipaliteit het teen druktyd nie op die Herald se kommentaar reageer nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button