SportSport

Bekende tandarts draf Twee Oseane kaf saam met kroos

Stap vir stap en hand aan hand met sweet op hulle wenkbroue en ‘n effense moegheid in hulle bene, het die Hennings vanjaar oor die eindstreep van die Twee Oseane halfmarathon geskuif. Dit was totale vreugde vir Pieter Henning, ’n bekende tandarts in Potchefstroom, wat sy tande geslyp het vir hierdie familie-oomblik saam met sy …

Stap vir stap en hand aan hand met sweet op hulle wenkbroue en ‘n effense moegheid in hulle bene, het die Hennings vanjaar oor die eindstreep van die Twee Oseane halfmarathon geskuif.
Dit was totale vreugde vir Pieter Henning, ’n bekende tandarts in Potchefstroom, wat sy tande geslyp het vir hierdie familie-oomblik saam met sy kinders Pieter, Moritza en Delene. Hulle het die 2016 Twee Oseane halfmarathon saam voltooi.
Hy het sy liefde vir sy vrou en kinders en sy liefde vir draf gekombineer om die krag van sport en die gesondheidsaspekte daarvan uit te beeld.
Pieter het sy familie oorreed om saam met hom die wedloop te hardloop. Na maande se voorbereiding het die kinders en skoonkinders saam met hulle op en wakker pa van 64, hierdie mylpaal bereik.
“Dit was vir my lekker om saam met my kinders hierdie te kon doen. Ons het saam begin en saam klaargemaak en dit is vir my uniek en baie spesiaal,” sê Pieter wat in 1985 begin draf het. Dit was nadat dr. Willie Victor hom geïnspireer en gemotiveer het om die Comrades te doen.
“In 1986 het ek met driekampe begin en het al in totaal 12 Ysterman kompetisies voltooi. Bertus le Roux en ek het al aan honderde items deelgeneem,” vertel die veteraanatleet wat in 1996 ook vir die SA Tweekampspan gekies is.
Hardloop is deel van Pieter se bloed en vir meer as 30 jaar draf hy al die land plat en bly gesond en gelukkig as deel van hierdie goeie gewoonte.
“Ek het nooit my kinders forseer om saam te hardloop nie. Hulle het net uit hulle eie begin.
“Ek het seker net die voorbeeld gestel,” lag hy.
“Dit is ’n groot voorreg om nog aktief deel te neem en te draf sonder beserings en saam met my gesin is dit ’n groot seën,” sê hy.
Sy positiewe houding spreek boekdele.
Dit is juis dit wat hom op sy ouderdom vol lewenslus hou.
“Ek draf om die natuur te geniet en die Here daarvoor te dank dat ek wel kan draf,” sê Pieter.
Hy draf ook gereeld by Lekwena roetes van tussen 10-25 kilometer.
Dit is vir Pieter een van die lekkerste dinge om sport te beoefen en wanneer hy alles noem wat hy al probeer het, hang ’n mens se mond oop.
“Gholf, fietsry, roei, muurbal, seilplank ry en selfs rolbal saam met my skoonpa, Koos van Deventer, oud-burgemeester van Potchefstroom, het ek al aangepak,” noem hy.
“Sport is goed vir die gemoed en hou ’n mens se kop skoon.
“Ek raai alle kinders dus aan om meer aan sport deel te neem,” voeg hy by.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button