SportSport

Morné Steyn maak Volkies se rugbyspelers touwys

Die Springbok en Blou Bulle legende, Morné Steyn het saam met die oud-Valke, Cats en Springbok skrumskakel, Deon de Kock, ‘n rugby vaardigheidskursus by Volkies op Vrydag, 28 Julie aangebied.

Hoër Volkskool Potchefstroom se rugbyspelers en afrigters het die ongelooflike geleentheid en voorreg gehad om die voormalige Springbok-losskakel, Morné Steyn, op hul veld te verwelkom.

Video: Wouter Pienaar

Steyn het saam met die oud-Valke, Cats en Springbok skrumskakel, Deon de Kock, ‘n rugby vaardigheidskursus op Vrydag, 28 Julie aangebied.

De Kock is bekend vir sy vaardigheidskursusse wat hy as deel van Ratel Rugby by verskeie skole aanbied. Hierdie keer het Steyn ook saamgekom om veral op skopvaardighede te fokus. De Kock het nou weer met die skrumskakel gewerk en talle vaardighede by hulle tuisgemaak.

Foto’s: Wouter Pienaar

Die seuns, vanaf graad 8 tot matriek, het elke oomblik saam met Steyn geniet en sy woorde van wysheid soos ‘n spons ingeneem.

Steyn noem dat hierdie soort vaardigheidskursus juis vir hom ‘n geleentheid gee om aan die nuwe generasie terug te gee.

“Dis lekker om vandag hier by Volkies te wees. Ek en Deon de Kock het besluit om ‘n 9 en 10-kliniek aan te bied. Ons kombineer ook saam om verskeie vaardighede te wys en wat om te doen in sekere situasies op die veld. Die manne werk lekker saam,” vertel Steyn wat in 68 Springbok toetse 742 punte aangeteken het.

Mighael de Beer, eerste span afrigter van Hoër Volkskool Potchefstroom, noem dat dit ‘n ongelooflike ervaring was om een van die beste skoppers in die geskiedenis van rugby by die skool te hê.

“Ek dink was ‘n fantastiese ervaring vir die spelers en afrigters om hom te ontmoet. Hy was baie nederig tydens die sessie en hy het na die tyd saam met ons worsbroodjies geëet. Die wysheid wat hy bring was eenvoudig vir die spelers om te verstaan. Dit was ook lekker om saam met hom te kon kuier en net te sien hoe hy ook rugby verstaan en die game so eenvoudig gemaak het,” noem De Beer.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button