Local newsNewsNews

Red ‘n lewe en skenk bloed hierdie maand

Die land beleef tans ‘n bloedtekort, en Potchefstromers word gevra om bloed te skenk.

“Bloed is nie iets wat mens in Pick ‘n Pay kan koop nie.”

So sê Ananda Liebenberg, ‘n Potchefstromer wat al vir 17 jaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANB) werk, en tans die hoofverpleegster is by die Potchefstroomse tak.

Liebenberg sê verder: “Om bloed te skenk is ‘n baie spesiale en belangrike ding om vir ander te doen, jy gee vir hulle iets wat jou lyf maak.”

Die land beleef tans ‘n bloedtekort, en Potchefstromers word gevra om bloed te skenk.

Wanneer mens gaan om te skenk, is daar ‘n vraelys om in te vul. Die vraelys is daar om meer uit te vind oor jou leefstyl en gesondheid, asook medikasie waarop jy moontlik is. Daarna word daar ‘n kort onderhoud gevoer om seker te maak dat jy al die vrae verstaan en reg ingevul het.

“Dit is slegs om jou en die ontvanger van jou bloed te beskerm, om seker te maak almal is veilig,” sê Liebenberg.

Na afloop van die onderhoud word jou vinger geprik om jou hemoglobien-vlakke te toets om seker te maak dit is veilig vir jou om te skenk.

Skenkers kan ‘heelbloed’ (bloed soos dit uit jou lyf uit kom) en plasma skenk. Liebenberg verduidelik dat plasma ‘n komponent in bloed is, en dat mense wat bloedtipe A of AB is, goed werk vir plasma-skenking aangesien almal hierdie plasma kan ontvang. Wanneer mens bloed skenk, duur die proses ongeveer agt tot tien minute, waar plasma-skenking ongeveer ‘n halfuur duur.

Nuwe skenkers moet ouer as 16 of jonger as 75 wees om te kan skenk. Skenkers moet ook bo 50 kg weeg. Indien jy ouer as 75 jaar is, maar ‘n gereelde skenker is word jy aangemoedig om aan te hou skenk. Om plasma te kan skenk moet jy ouer as 18 wees, en meer as 55 kg weeg.

Skenkers word aangeraai om ‘n veilige, gesonde leefstyl te leef om die veiligheid van hulself en die ontvangers te verseker. Verder moet skenkers ekstra vloeistowwe inneem op die dag van skenking. Dit is belangrik dat die skenker ‘n goeie ete eet voordat hul kom bloed skenk. Die SANB bied maandeliks ‘blood-drives’ aan by die universiteit, verskeie besighede, asook skole.

Die Potchefstroom-tak kan by Esselenstraat 5, Henco-gebou 3, gevind word. Om meer uit te vind in verband met skenking in Potchefstroom, kan die 0800 11 90 31 tolvrye nommer geskakel word.

Die SANB webblad https://sanbs.org.za/ kan ook besoek word om meer uit te vind oor die werkings van bloed, plasma skenking, asook werksgeleenthede.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button