SportSport

Pukke se kampioensreis

Dit is ’n raps voor 06:00 op Maandagoggend 25 Januarie. In die waglokaal by Lanseria-lughawe tel die horlosiearm gedwee die tyd af voor die Boeing 737 Kaapstad toe vertrek. Na die FNB-gebou toe. Na die bekendstelling van die 2016 Varsitybeker toe. Hy gaan sy vlug verpas. Feit. Dan lig die NWU-Puk se kaptein, Jeandré Rudolph, …

Dit is ’n raps voor 06:00 op Maandagoggend 25 Januarie. In die waglokaal by Lanseria-lughawe tel die horlosiearm gedwee die tyd af voor die Boeing 737 Kaapstad toe vertrek.
Na die FNB-gebou toe. Na die bekendstelling van die 2016 Varsitybeker toe.
Hy gaan sy vlug verpas. Feit. Dan lig die NWU-Puk se kaptein, Jeandré Rudolph, se wenkbroue herkennend op, hy wys met sy vinger en sê: “Hier is hy.”
Baadjie oor sy skouer gedrapeer, Rasta-lokke netjies in ’n poniestert vasgebind. Doer kom Jonathan Mokuena aangestap.
Nou kan hul reis saam begin. 77 dae en 13 ure later is dit die begin van ’n 88 minute en 32 sekondes einde van die reis.
Die NWU-Puk maal saam op Maties se doellyn. Speeltyd is lankal reeds verstreke. Dis 6-0 vir Maties, tot Marno Redelinghuys oorduik vir die wendrie.
Die reis is verby, want: “Ek het nie vir ’n oomblik gedink dat Rhyno (Smith) die doelskop sou mis nie,” vertel Rudolph, wat vir die tweede agtereenvolgende week as Speler van die Wedstryd aangewys is.
Kaptein fantasties dink jy. Bog, sê hy: “Dit was spesiaal om as Speler van die Wedstryd in die eindstryd aangewys te word.
Maar, as dit van my afgehang het sou ek elke NWU-Puk die Speler van die Wedstryd gemaak het. Die ouens het as ’n span vir mekaar gespeel en dit het my werk baie makliker gemaak.”
Vir die laaste tien minute van die kragmeting het die NWU-Puk op Maties se doellyn geboer asof die Danie Craven-stadion se grond eindelose oeste gaan oplewer.
Basta daarmee. Strafskop, strafskop, skrum, skrum ad infinitum.
En al wat deur Rudolph se kop gaan is: “’n Strafdrie!” grap hy.
“Ek het geweet as ons net aanhou kan ons dit doen. Ons het sterk geskrum en ek het besef as ons net die druk volhou kan ons die deurbraak maak.”
Vat vyf Marno. “Ek was verlig en toe baie bly.” B.A.I.E.
Daar is toe net een ding te maak, bieg hy: “’n Paar lang biere en toe baie sjampanje! Nee kyk, die gees en die atmosfeer was ongelooflik.” Soos dit is by ’n familiebyeenkoms.
“Ons is ’n klomp broers wat elke oomblik van elke wedstryd vir mekaar gespeel het. Die hele afrigtingspan was fantasties.
Van coach Jonathan voor tot die laaste man; dit is ’n ongelooflike groep mense. Hulle is ouerfigure wat leiding gee.
Ek wil ook net dankie sê vir almal wat ons so ondersteun het.
Van almal wat Stellenbosch toe gekom het tot almal by die ondersteunersparke in Potchefstroom. Ons het gesien hoe baie van julle daar was, dit was mal!”
Ná nege jaar se probeer en drie hartverskeurende eindstryde. Heito hiers hy nou.
“Ek sê nogal nou-nou vir iemand dat ek dink dit gaan eers insink wanneer ons terug is in Potch.” Dinsdagmiddag hier by 14:40 land Mango vlug JE712 vanaf Kaapstad op Lanseria. Die passasiers slaan hul eie koer in. Stede toe, huise toe, families toe. Sommige van hulle klim op ’n bus en ry met die R512 af. Hulle vat die N14 en ry met hom tot hulle die Klerkskraaldam sien. By die Rysmierbult-bord draai hulle links en ry verby die beeste en PG du Plessis se plaas. Hulle draai regs op die Carletonville-pad. Elke wieldraai vorentoe sink dit meer in.

Related Articles

Back to top button