Local newsNewsNews

Slaggate regeer in Miederpark

Opmerklike slaggate begin reeds op die hoek van Viljoenstraat en Govan Mbeki-rylaan, en volg motoriste reg deur Viljoenstraat tot in Kruisstraat verby Potchefstroom Hospitaal.

Slaggate hou aan kop uitsteek en inwoners is al raadop om dieselfde stories voor hul oë te sien afspeel.

Gate word nie behoorlik herstel nie, of daar word geen herstelwerk gedoen nie. Opmerklike slaggate begin reeds op die hoek van Viljoenstraat en Govan Mbeki-rylaan, en volg motoriste reg deur Viljoenstraat tot in Kruisstraat verby Potchefstroom Hospitaal.

Johan Zerwick, DA raadslid van wyk 4, sê inwoners in Miederpark gee al moed op.

“Slaggate en waterlekke word byna daagliks gerapporteer maar reaksie is baie traag of byna nooit,” sê Zerwick verder.

Volgens hom het die wykskomitee van wyk 4 al fondse aangewend om herstelwerk te doen in ‘n poging om vir motoriste en inwoners verligting te bring. Daar was al kontrakteurs aangestel deur die munisipaliteit om herstelwerk te doen, maar die slaggat-probleem hou aan kop uitsteek.

Everhard Laing, Vryheidsfront Plus raadslid van wyk 2 sê dat daar ‘n groot stuk van die pad op die hoek van Viljoenstraat en Govan Mbeki-rylaan herstel is, maar dat die pad nie geseël word na die herstel van slaggate nie, en dan word die teer net weer uitgery en uitgespoel.

Everhard Laing, Vryheidsfront Plus raadslid van wyk 2, wys die herstelwerk uit,
maar ook waar slaggate gevorm het op
die soom van die herstelwerk. Foto: Cornelia Hitge.

Verder sê Laing dis ‘n groot problem deur die hele Potchefstroom dat slaggate net tydelik herstel word. Laing bevestig dat die slaggate al telkemale aan die munisipaliteit geraporteer is. “Kyk, ek is nou nie ‘n padkenner nie, maar soos wat ek dit van die kenners verstaan verskuif die gewig net vanaf die herstelde deel af na die pad toe, en dan vorm nuwe slaggate. Die nuwe teer moet geseël word na herstelwerk, en dan moet dit herseël word,” meen Laing.

Laing noem dat hy aan die munisipaliteit voorgestel het om die T-aansluiting met stene uit te lê soos wat die interseksie by Mooirivier Mall uiteengesit is is, maar die munisipaliteit het gesê dat dit te veel gaan kos om die pad so te verander. Zerwick en Laing sê albei dat motoriste al skade gely het op hulle voertuie as gevolg van die slaggate.

“Motors word beslis beskadig,” sê Zerwick, “Net onlangs tydens Paasnaweek het ek twee motors gesien wat pap bande moes vervang in die omgewing.”

Laing het nie onlangs ‘n rapportering van skade op ‘n voertuig ontvang nie, maar sê dat meeste mense nou weet waar die slaggate is en dit dan vermy.

Verder noem Zerwick dat die slaggate en waterlekke op die Requestor-app gerapporteer word, maar die publiek is moedeloos want daar volg nie herstelwerk op die rapportering nie, en sonder die nodige onderhoud gaan die situasie vererger. Die Herald het die munisipaliteit vir navrae genader, maar teen druktyd is daar nog nie terugvoer ontvang nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button