SportSport

SA 100m kampioene verras jong atleet met getekende spykerskoene

Akani Simbine en Carina Horn het bewys hulle is ware rolmodelle toe hulle Lea Verster (16) se dag gemaak het met 'n paar getekende spykerskoene.

Die SA kampioene in die 100 meter, Akani Simbine en Carina Horn, het ‘n jong Potchefstroomse atleet, Lea Verster (16), se jaar gemaak toe hulle vir haar getekende spykerskoene gegee het.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek was in skok toe ek hoor dat Akani sy eie spikes vir my gaan teken en gee,” vertel Lea.

Op Saterdag, 1 April tydens die laaste dag van die 2023 ASA Atletiekkampioenskappe in Potchefstroom by die NWU McArthur Atletiekstadion, het Lea al haar moed bygeskraap om hierdie twee supersterre vir handtekeninge te vra.

Lea Verster (middel) saam met SA 100m kampioene en rekordhouers, Akani Simbine en Carina Horn, by die SA Kampioenskappe nadat hulle vir haar getekende spykerskoene present gegee het. Foto’s: Verskaf.

“Ek het hulle uit die hoek van my oog op die pawiljoen gesien en toe besluit om hulle te gaan vra om my skoene (Converse sneakers) te teken,” noem Lea, wat ‘n graad-10 leerder in Hoër Volkskool Potchefstroom is.

Lea het hulle met hulle SA titels gelukgewens wat hulle op Donderdag, 30 Maart in Potch verower het en daarna gevra of hulle haar skoene sou teken.

Akani glimlag toe hy die versoek hoor en sê dat hulle nie haar skoene kan teken nie.

“Hoekom kry ek nie my spikes nie en dan teken ek eerder daarop?,” was sy terugvoer.

Na die 400m items veby was, het Simbine en Horn by hulle belofte gehou en getekende hardloopskoene met ‘n boodskap vir Lea gegee en vir ‘n foto saam haar poseer.

“Dit was regtig ongelooflik en ek het dit glad nie verwag nie. Ek is baie dankbaar en gelukkig,” noem Lea.

Albei Simbine en Horn is ook die SA rekordhouers in die 100m. Simbine se persoonlike beste is 9.84 sekondes en Horn s’n is 10.98 sekondes.  

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button