SportSport

Christo van Heerden: Die 31ste man op die rugbyveld

Sommige dae het hulle hom uitgejou en sleggesê en ander dae kon hy tevrede van die veld afstap. Christo van Heerden is sinoniem onder Potchefstromers en Luiperd geledere vir sy jarelange diens aan rugby as skeidsregter en in sy posisie as voorsitter van die Luiperds Skeidsregtersvereniging. In sy jonger dae was hy ‘n gerespekteerde skeidsregter …

Sommige dae het hulle hom uitgejou en sleggesê en ander dae kon hy tevrede van die veld afstap. Christo van Heerden is sinoniem onder Potchefstromers en Luiperd geledere vir sy jarelange diens aan rugby as skeidsregter en in sy posisie as voorsitter van die Luiperds Skeidsregtersvereniging.

In sy jonger dae was hy ‘n gerespekteerde skeidsregter wat van HTS Potchefstroom se C-velde tot op Loftus talle wedstryde geblaas het.

Met sy jare ervaring en kennis is hy natuurlik ‘n geskikte keuse as ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Raad vir Skeidsregters of (SARR) soos hulle bekend staan.

“Ek vertolk die oorsigrol onder alle Suid-Afrikaanse skeidsregters. Waar ek voorheen net provinsiaal gewerk het, gaan ek nou meer nasionaal betrokke wees.”

Van Heerden is al vir 40 jaar in skeidsregting betrokke, nadat hy as student die fluitjie begin blaas het.

“My eerste wedstryd was op HTS Potchefstroom se C-velde teen Potch Boys High se o.14 B-span,” onthou hy.

“Ek het in die era grootgeword waar jy moes wag dat die skeidsregters bo jou moet aftree voor jy ’n kans kon kry. Daar was nie die geleenthede vir jong skeidsregters om op nasionale vlak naam te maak soos nou nie.”

Van Heerden het wel die kans gehad om ’n Leeus en Cheetahs o.20 wedstryd in die begin van sy loopbaan te blaas, waar Springbok Jannie de Beer in die doodsnikke ’n strafskop vir die Cheetahs oorgeskop het.

“Een van my goeie herinneringe was ook om Noord-Transvaal teen Wes-Transvaal op Loftus te blaas. In 1988 het ek ook in die Cravenweek vir Laerskole in Potchefstroom geblaas,” voeg hy by.

Christo van Heerden ontvang 'n oorkonde van Steve Meintjies
Christo van Heerden ontvang ‘n oorkonde van Steve Meintjies

Van Heerden, wat tans by Volkskool se rugby as afrigter betrokke is, het ook tientalle klubwedstryde geblaas en reken dat hy statistiek moes gehou het van al sy wedstryde, veral omdat hy nou nie meer wedstryde blaas nie.

Een van sy grootste herinneringe was toe hy Potch Dorp Rugbyklub se eerstespanwedstryd geblaas het en teen ervare rugbyspelers moes meeding – nietemin sou hulle nie enige nonsens van ‘n nat agter die ore skeidsregter opvreet nie!

“Sakkie Raath, Paul du Rand en Sias Willemse was die ou hande en die wedstryd teen Vaal Reefs was altyd ‘n taai affêre.”

Vir Van Heerden is daar geen twyfel dat Vaal Reefs die moeilikste span was om te blaas nie.

“Orkney was ‘n ander plek, veral met die aandwedstryde.

“Kyk, dit was harde mense van die myngemeenskap. Hulle het nie geskroom om jou van hier tot daar by die see te vloek nie. Hulle was maar harde koejawels. Dissipline was maar soms ‘n groot probleem, veral by die donker kolle op die veld. Die Vaal Reefs en Pukke wedstryde was een van die moeiliker wedstryde – die student teen die geharde manne.

“Om ‘n ware skeidsregter te wees moet jy ook koshuisrugby kan blaas. Dit is hier waar ek geleer het om ‘n taai vel te ontwikkel,” vertel hy.

“Ek sal nooit vergeet hoe ek deur die studente sleggesê is na ‘n beslissing nie. My seuntjie was toe daar en hy kon nie glo dat mense sy pa so kan slegsê nie. Die jong skeidsregter op die veld is ‘n pa se kind. Hoe sal hy dan optree? Ek glo die publiek moet verder dink voor hulle net kritiseer sonder ‘n basis,” vertel Van Heerden die soms moeilike lewe van ‘n skeidsregter, wat telkemale as die vark in die verhaal beskou is.

“Die verloorspan is altyd vir jou kwaad. As ‘n skeidsregter ‘n fout maak, wys al die vingers na hom, veral met TV kameras wat elke beweging dophou.

“Ek het geblaas om fiks te word. Nou moet jy fiks wees om te blaas,” verduidelik Van Heerden die veranderende rol van die skeidsregter.

“As albei spanne tevrede van die veld af is, dan was ek bly gewees en dan weet ek dat ek ’n goeie wedstryd gehad het. Die moeilikste deel daarvan om ‘n skeidsregter te wees, is om die opmerkings van buite af te hanteer. Dit is baie belangrik om konsekwent op te tree.

“Die reëls het nooit verander, ek dink net dat ons rugbyreëls te kompleks is. Daar is te veel reëls. Tog word daar soveel gedoen in SA rugby om skeidsregters goed op te lei. Ons sit met van die beste skeidsregters in die wêreld.”

Dit is sodoende geen verrassing dat manne soos Craig Joubert en Jonathan Kaplan al diep spore in wêreldrugby getrap het nie. Tog bly André Watson vir Van Heerden SA se nommer een.

“Hy het twee wêreldbekereindstryde geblaas. Ek dink hy was een van die eerstes wat permanent aangestel is. Hy was van uitstaande gehalte.

“Die uitdaging is om ouens betrokke te kry en betrokke by skeidsregting te hou. Dit is ’n lang proses om op die hoogste vlak te blaas. ’n Mens moet hard werk en integriteit hê.”

Moeilikste wedstryd?

“Een van die slegter oomblikke was toe hulle my uitgejou het as ‘n cheat in ‘n wedstryd tussen Pontypool en die SA Weermag. Sommige tye kon jy saam met die spelers gesels en oor die reëls gesels. Dit het dit lekker gemaak. Die spelers en skeidsregters moet kommunikasie hê.

“Jy is nie ‘n polisieman nie, jy is die 31ste persoon op die veld. Eugene Hare is ‘n ou wat begrip vir skeidsregters gehad het. Hy was een van die beste kapteins,” vertel Van Heerden.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button