SportSport

NWU slaggereed vir Varsity Krieket in ‘n opwindende nuwe formaat

Die NWU se beste krieketspelers gaan vanaf 3-5 Oktober by Tukkies in Pretoria vir die gesogte Varsity Krieket-titel kompeteer.

Die NWU se beste krieketspelers gaan vanaf 3-5 Oktober by Tukkies in Pretoria vir die gesogte Varsity Krieket-titel kompeteer.

Vir die eerste keer sedert 2019 keer die Varsity Kriekettoernooi terug wat weens die Covid-19 pandemie afgelas was. Voorheen was Potchefstroom die tuiste vir Varsity Krieket, maar vanjaar is Tukkies vir die eerste keer die gashere in ‘n verkorte en nuwe formaat.

Agt universiteite is in twee groepe volgens hulle uitslae by die USSA-kampioenskappe verdeel. Die NWU is in groep B saam met Tukkies, NMU (Madibaz) en die Universiteit van Kaapstad, terwyl UJ, Maties, die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en CUT sake in groep A uitspook.
Elke span sal mekaar een keer in die poel speel met die top twee spanne uit elke poel wat mekaar in die halfeindstryde sal aanvat.

Daar is nie kans vir die NWU om hul voete in vanjaar se toernooi te vind nie, aangesien hulle reeds vir Tukkies in die openingswedstryd speel. Daarna volg wedstryde teen die Madibaz op dieselfde dag en UCT een dag later.
Die halfeindstryde sal ook Dinsdag, 4 Oktober plaasvind, wat beteken dat elke span ten minste twee wedstryde per dag sal speel voordat die finaal Woensdag, 5 Oktober plaasvind.

In so ‘n T20 formaat is spandiepte en diversiteit van opsies van kardinale belang. NWU hoofafrigter, Conrad de Swardt, noem dat hy en sy spelers slaggereed is vir die toernooi wat Maandag begin.

“Ons sien werklik baie uit hierna, veral omdat die toernooi nie die afgelope paar jaar kon plaasvind nie. Hier is spelers wat nog nie Varsity Krieket gespeel het nie en nou hulle kans kan gebruik,” vertel De Swardt.
Chris Britz, die ervare kolwer en NW Dragons speler, sal die NWU tydens die Varsity Kriekettoernooi lei. Volgens De Swart bring Britz baie ervaring na die tafel toe.

“Chris is ‘n speler wat ook ‘n rustigheid na die span bring en die spelers goed laat saamwerk. Hy is deel van ‘n sterk seniorkorps in die span,” vertel De Swardt.

Tesame met Britz sal die kolwers Eben Botha, Jared Fuchs, Heinrigh Pieterese en Tumelo Banda ook ‘n groot rol speel om lopies vir die span in te samel. Die ervaring van Khanya Cotani as paaltjiewagter en die boulwerk van Dragons draaier, Caleb Seleka sal ook van die NWU se sterkpunte wees.
Die voormalige SA o.19 bouler, Hardus Coetzer, sowel as snelbouler, Connor de Boer sal ook in hierdie toernooi kan skitter.

“Hierdie toernooi sal definitief ‘n waterskeidingsoomblik vir die spelers wees. Ek voel die span het ‘n baie goeie balans met spelers wat die geleentheid moet aangryp om naam te maak. Varsity Krieket is op die televisie en ‘n goeie toernooi maak beslis deure oop vir spelers,” meen De Swardt.
In die korter T20-formaat kan enige wedstryde in ‘n oogwink verander met ‘n paar vinnige paaltjies of groot sesse.
Die NWU sal wel alles in hulle vermoë doen om seker te maak dat hulle aan die regte kant van die telbord sit.
NWU Varsity Krieketspan:

Chris Britz (c), Khanya Cotani, Eben Botha, JP King, Heinrigh Pieterse, Jared Fuchs, Taheer Isaacs, Tumelo Banda, Hardus Coetzer, Jesse James Albanie, Edumisa Dlulemnyango, Connor de Boer en Caleb Seleka

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button