NewsNews

Polisie trek motorfietsdiewe vas

Die polisie het drie mans in hegtenis geneem nadat ’n gesteelde motorfiets in hulle besit gevind is.

Die polisie het drie mans in hegtenis geneem nadat ’n gesteelde motorfiets in hulle besit gevind is.
Adjudant-offisier Antoinette Cassell en konst. Gerhard Visagie het Dinsdagoggend inligting ontvang dat daar in die veld agter die McArthur-atletiekstadion drie mans was wat besig was om ’n motorfiets te probeer verkoop.
Met hul aankoms het Cassel en Visagie gesien dat ’n palissadehek by Tramonto woonstelle teruggebuig en afgesny is. Daar het ook ’n nommerplaat gelê. Dié twee beamptes van die honde eenheid het die drie mans in die veld vasgekeer en ondervra.
Twee van die mans het tydens ondervraging te kenne gegee dat hulle die motorfiets gesteel het. Die derde verdagte het beweer dat die ander twee aan hom die motorfiets wou verkoop, maar die ander twee het volgehou dat hulle saam die motorfiets gesteel het.
Die verdagtes is in hegtenis geneem terwyl Cassel en Visagie vir die forensiese span gewag het om vingerafdrukke te neem.
Terwyl die forensiese span besig was met die vingerafdrukke, het Cassel en Visagie ’n man naby die hek wat oopgebreek is gesien en met ondersoek het hulle bevestig dat dit dié man se motorfiets is wat die aand gesteel is. Volgens die eienaar werk hy nagskof en het eers die oggend nadat hy teruggekom het van die werk af, agtergekom dat sy motorfiets weg is.

Related Articles

Back to top button