SportSport

Dit is deel van sy DNS

Daar is twee dinge wat deel is van Jean Tiedt se DNS, verdediging en die NWU.

Daar is twee dinge wat deel is van Jean Tiedt se DNS, verdediging en die NWU. Dié twee aspekte is onlosmaaklik deel van die 38-jarige pa van twee en huidige verdedigingsafrigter van die NWU se Varsitybekerspan se lewe. Volgens Tiedt het hy nog nie aspirasies om op ‘n baie hoë vlak die rol van hoofafrigter oor te neem nie. “Dalk groei ek in so ‘n rol in, maar vir nou dink ek, wil ek op die hoogste vlak ‘n verdedigingsafrigter wees,” verduidelik hy. Alhoewel Tiedt van Randfontein af kom waar hy sy laerskoolloopbaan voltooi het en aan Hoërskool Monument gematrikuleer het, beskryf hy homself as ‘n Potchefstromer. Hy speel al sedert 2004 vir die senior NWU span, in die dae voor Varsity Cup. “Ek het meer as 120 wedstryde vir die universiteit gespeel. In die klubligas en Intervarsity. “Ek kon darem aan die Varsity Cup ook deelneem toe dit begin het. In 2012 het ek vir die Ibbies gespeel en help afrig. Ek is al langer in Potch as enige ander plek in my lewe. “Ek kan elke groot gebeurtenis in my volwasse lewe aan ‘n NWU trui koppel. Van my troue tot die geboorte van my kinders,” verduidelik hy. Tiedt het as 18-19-jarige skrumskakel en heelagter vir die senior NWU en Luiperds gespeel. In hierdie tyd as ‘n melkbaard moes hy sy man teen baie grysbaarde en hardebaarde van verskeie klubs en ander unies staan. Klubs soos Pirates, Diggers en Vaal Reefs Rugby klubs wat vir hulle fisiese spel bekend staan. “Dit was rof, die manne het baie harde en fisieke rugby gespeel,” lag hy. Tog is dit presies hierdie ervaring wat volgens dié skrywer hom op sy rol as verdedigingsafrigter voorberei het. Sy passie vir rugby kook oor wanneer hy oor die spel begin praat. Veral wanneer hy oor verdediging praat. Hy is deeglik, fokus op tegniek en baie analities. “Die twee goed wat ‘n goeie verdediger maak is jou houding en tegniek. As jy nie ‘n veggees het nie maar goeie tegniek, is jy net halfpad daar. As jy slegte tegniek het, maar die guts om te gaan vir die duik, werk dit ook nie. Matt Proudfoot het altyd gesê talent kan die deur oopmaak, maar harde werk is al wat jou deur die deur gaan kry,” sê Tiedt. Tiedt is einde verlede jaar ook as die hoofafrigter van die NWU en Luiperds se o.19 span aangewys. “Dit is ’n groot uitdaging, omdat ek glo my grootste doel is om spelers te ontwikkel en nie noodwendig bekers te wen nie. Maar ek haat verloor meer as wat ek van wen hou, so dit is moeilik,” skerts Tiedt. Volgens hom doen die NWU se rugbyinstituut ongelooflike goeie ontwikkelingswerk. Veral omdat die NWU nie noodwendig altyd die room van die skole se rugbyspelers werf nie. “Die NWU kry gewoonlik die 5de of 6de beste spelers in ‘n posisie, maar ons is altyd kompeterend. Dit spreek net van die goeie werk wat die instituut doen,” meen hy. Jean Tiedt is ‘n NWU-man in murg en been.  

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button