SportSport

“Elke wedstryd is ‘n eindstryd”

“Ons grootste wedstryd sal die volgende een moet wees,”

Alhoewel daar nie nuwe spelers ingevoer is nie, is André Pretorius, hoofafrigter van die NWU, dit eens dat hy saam met die huidige groep oorlog toe sal gaan. Die NWU het verlede week van hulle voorseisoenkamp teruggekeer. Volgens Pretorius is die belangrikste wat die spelers na die kamp saam met hulle terugneem, die hegte band wat hulle en die afrigters met mekaar gesmee het. Dit is merkwaardig, aangesien hulle die verdedigende Varsitybeker kampioene, Tukkies, in twee oefenwedstryde gewen het. Die eerste een met 40-12 en die tweede met 22-12. “Ons fokus is op die prosesse, ons meet onsself ook aan die prosesse en nie noodwendig die resultate nie. As dit reg is, glo ons dat die resultate sal kom,” verduidelik Pretorius die span se filosofie. Die NWU gaan met ‘n jonger span die Varsitybeker aanpak nadat daar baie spelers is wat nie meer beskikbaar is vir die kompetisie, omdat hulle te oud is en spelers wat weg is na ander universiteite. Een van die spelers wat na ‘n ander universiteit toe is, is verlede jaar se kaptein, Lincoln Daniels. “Die groep is honger, hulle wil speel en hulself bewys. Daar is baie opwindende spelers soos Martin Venter wat van die o.20s af kom. Gustav Erlank, ‘n oud-Volkie en Pienaar van Niekerk wat binnesenter speel,” vertel hy. Senior spelers soos Heinz Bertram, André Fouche, Riaan Genis en Sampie Swiegers was verlede jaar ook deel van die Luiperds, wat die Curriebeker eerstedivisie-titel ingepalm het. Hierdie spelers sal baie waarde in terme van hulle ervaring toevoeg. Swiegers is as kaptein vir die seisoen aangewys. “Die spelers is gemaklik met hom, hy praat nie onnodig nie en hy het ‘n goeie verhouding met al die spelers. “As afrigters het ons onder mekaar besluit, waarna ons die spelers gevra het om voorstelle te maak. By ver het die meeste spelers hom ook voorgestel,” het Pretorius gesê. Volgens hom kan die span nie bekostig om enige wedstryd ligtelik op te neem nie. “Elke wedstryd moet ons soos ‘n eindstryd benader. “Ons grootste wedstryd sal die volgende een moet wees,” verduidelik Pretorius. Daar is nog een oefenwedstryd op 29 Januarie teen CUT in Bloemfontein. Die Varsitybeker skop amptelik op 14 Februarie af. Die NWU is om 17:00 op die Fanie du Toit sportgronde teen Ikeys in aksie.

Related Articles

Back to top button