SportSport

Luiperds se rugbynooi maak tonge los

Rugby word nog altyd in Suid-Afrika gesien as ‘n sport vir hardebaard manne wat met krag en flinkvoetigheid die spel speel. Hierdie stereotipe word nou gebreek met vrouerugby wat stadig maar seker besig is om ‘n nuwe generasie vroue aan hierdie sport bekend te stel. Die Luiperds rugbyunie se vrouespeler van die jaar, Nadine van Reenen, …

Rugby word nog altyd in Suid-Afrika gesien as ‘n sport vir hardebaard manne wat met krag en flinkvoetigheid die spel speel. Hierdie stereotipe word nou gebreek met vrouerugby wat stadig maar seker besig is om ‘n nuwe generasie vroue aan hierdie sport bekend te stel.

Die Luiperds rugbyunie se vrouespeler van die jaar, Nadine van Reenen, is ‘n voorbeeld, wat met haar voorkoms ‘n nuwe beeld vir vrouerugbyspelers skep. “Een van my vriendinne het gesê ek moet kom rugby speel, aangesien ek reeds baie sportief is. Ek het besluit om te probeer en al was ek huiwerig, het ek vinnig aan die spel gewoond geraak,” vertel sy.

Nadine se pa is ‘n groot rugbyentoesias en dit is hier waar Nadine haar liefde vir die sport ontwikkel het. “Ek het my eerste wedstryd teen die Valke gespeel en na die wedstryd het ek nog baie goed gevoel. My afrigter het die talent in my spel gesien en my heeltyd gemotiveer. Hy het geweet ek het die potensiaal om groot dinge te bereik,” sê die nr. 6 flank.

Volgens Nadine voel sy ook geëerd om na slegs een en ‘n halwe jaar groot toekennings in haar sport te ontvang. “Dit is vir my belangrik om my doelwitte te bereik. Om aan die Nelspruit Sewes deel te neem was vir my ‘n baie lekker ervaring. Om Dubai Sewes te speel, glo ek sal ook ‘n fantastiese geleentheid wees. Nadine het wel ook goeie raad vir vroue wat dalk bang mag wees om rugby te speel as gevolg van die fisiese aspek daarvan.

“Dit is nie so hard soos die rugby wat mans speel nie. Daar is ‘n laer intensiteit en ons speel die spel op ons spoed,” meen sy. Tog is daar ook beserings en so af en toe ’n  krapmerk en blou kol wat in die spel kan intree.

“Ag, dit is maar deel van die spel. Vrouens se naels is maar gewoonlik langer,” glimlag sy. Die beste aspek vanjaar vir Nadine was om in ‘n groep te kon speel waar die spangees baie hoog was.

“Ons speel saam en kyk uit vir mekaar. Ons sing ook na ons wedstryde, maak nie saak of ons gewen of verloor het nie. Om die sport te speel bly die lekkerste.” Nadine glo dat daar ‘n toekoms vir vrouerugby in SA is maar dat daar van jongs af al blootstelling gegun word.

“Daar moet ondersteuning wees. Ek glo daardie stereotipe kan gebreek word en dat ons meer meisies sal kry wat in rugby sal belangstel.”

Nadine in ‘n neutedop:

Gunsteling kos: Vleis

Flieks: Aksie

Musiek: Popmusiek en Afrikaans.

Gunsteling rugbyspelers: Fourie du Preez en Willie le Roux.

Related Articles

Back to top button