NewsNews

“Ek gaan haar verkrag en haar keel afsny,” word oupa se kleindogter (4) gedreig

Marilize Minné, Christo Jordaan en Ahmod Shiraz Sheik se aansoek om borgtog het Vrydagmiddag begin.

“Ek gaan haar verkrag en haar keel afsny,” dit is hoe ‘n oupa, wat anoniem wil bly, se kleindogter (4) onlangs deur ‘n man gedreig is.

Twee mans en ‘n vrou het Vrydag 8 Junie in die hof in Potchefstroom verskyn op aanklag van sameswering om moord en of verkragting te pleeg.

Marilize Minné, Christo Jordaan en Ahmod Shiraz Sheik se aansoek om borgtog het Vrydagmiddag begin. Dit nadat die saak Woensdag 6 Junie, toe hulle die eerste keer verskyn het,  uitgestel is. Die borgaansoek kon ook nie Vrydag voltooi word nie waarna die saak tot Maandag (11 Junie) uitgestel is.

Die Herald het verlede week berig dat dié drie in hegtenis geneem is nadat Sheik glo Saterdagmiddag (2 Junie) ‘n man en sy gesin telefonies met die dood gedreig het.

Volgens hom het Sheik gedreig om sy vrou en kleindogter, wat vier jaar oud is, te verkrag en vermoor.

Hy het na die polisie gegaan waarna ‘n polisie-optrede vir Maandag (4 Junie) beplan is wat tot Sheik se inhegtenisname gelei het.

Die ondersoekbeampte, kst. Jane Caiya, het tydens die borgaansoek getuig dat, nadat Sheik in hegtenis geneem is, hy aan haar openbaar het dat hy deur Minné en Jordaan aangesê is om die man te dreig.

Volgens Caiya se getuienis het sy ‘n selfoon in Sheik se besit gekry wat wys dat hy die klaer op die betrokke dae gekontak het. Sy het ook Minné se nommer op die selfoon gevind. Minné, wat as skakelbeampte by die Noordwes Universiteit se besigheidskool werksaam is, is kort na Sheik se inhegtenisname in haar kantoor in hegtenis geneem.

Minné het glo ten tyde van haar arrestasie gesê dat sy niks van die voorval weet nie. Jordaan, haar vriend, is later by die polisiestasie in hegtenis geneem.

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het ‘n proses in terme van die universiteit se dissiplinêre prosedure begin maar is nog nie afgehandel nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button