NewsNews

Potch skoonheid bewys dat drome waar word

Met haar lang blonde hare, glinster in haar oë en energieke persoonlikheid, is dit geen wonder dat die plaaslike model en voormalige Volkskool leerder, Anchané Pretorius (18), as ‘n finalis in een van die gesogste skoonheidskompetisies gekies is nie. Anchané is ‘n finalis in die Miss United Continents SA en Miss World Beauty Queen SA-kompetisie …

Met haar lang blonde hare, glinster in haar oë en energieke persoonlikheid, is dit geen wonder dat die plaaslike model en voormalige Volkskool leerder, Anchané Pretorius (18), as ‘n finalis in een van die gesogste skoonheidskompetisies gekies is nie.
Anchané is ‘n finalis in die Miss United Continents SA en Miss World Beauty Queen SA-kompetisie waar sy die kans staan om die gesogte titel as Suid-Afrika se verteenwoordiger oorsee te dra.

Terwyl meeste modelle al van kindsbeen af die loopplanke betree en kameraflitse so natuurlik soos tande borsel is, het Anchané eers heelwat later met haar spierwit glimlag begin floreer.

“Ek het eers baie laat begin toe ek in graad 11 was. Ek was nog altyd groot op netbal en sport, maar ek hou daarvan om mooi aan te trek.
“My vriendin, Chane Vermaak, het modelwerk gedoen en ek wou toe meer daaroor uitvind. Toe ek eers begin het ek geweet dat ek nooit daarmee sal ophou nie.
“Die lekkerste is om aan kompetisies deel te neem en te hoor wat ander modelle se doelwitte is en so ook almal se verskillende style te sien,” vertel sy.

“Die Miss United Continents is soos ‘n Mini Mej. Suid-Afrika waar deelnemers van 18-27 kan deelneem. Ek is nou deel van die top 17 wat in 19 Mei in Pretoria onderhoude doen en dan deur die dag is die groot kompetisie,” vertel sy.
Volgens Anchané is dit baie belangrik dat sy borge kry en op sosiale media ook groot trefkrag kry tydens die volgende paar maande voor die finaal.

“As jy wen dan sal jy SA in Ecuador verteenwoordig as die amptelike ambassadeur vir SA. Dit is ‘n groot titel en dit sal ongelooflik wees om daarmee ‘n verskil te maak,” vertel Anchané.

Anchané bieg wel dat haar eerste loopplankervaring nogal oorweldigend was en die senuwees bietjie geknaag het, maar na dit was alles vir haar natuurlik.
“Ek glimlag en lag net altyd en dit is vir my baie lekker by kompetisies, die spanning raak minder hoe meer mens deelneem.”
Anchané het onder meer al aan talle plaaslike kompetisies soos Little Miss World SA, Mej. Lentefees, sowel as Miss Ikageng Gate deelgeneem en maak merkwaardige vordering vir iemand met relatief minder ervaring as die meeste modelle.

“Ek wen nogal baie die kategorie vir die beste hare, omdat my hare so lank is. Die belangrikste in ‘n kompetisie is om jou persoonlikheid te behou en vir die beoordelaars met my lyftaal te wys wie ek is sonder om te praat,” sê sy vinnig terwyl ons deur haar portfolio vol sertifikate blaai.

In die toekoms is een van Anchané se drome om aan Mej. SA deel te neem as sy 21 word.
Dit was veral die huidige Mej. SA, Demi-Leigh Nel-Peters, wat sy ontmoet het, wat haar nog meer geïnspireer het.
“Almal het drome, maar jy hoef nie van jongs af groot drome te hê nie. My droom het eers op 17 begin.
“Ek wil ook vir meisies wys dat mens op ‘n latere ouderdom steeds met harde werk in die modelwêreld suksesvol kan wees. Almal se storie is anders en ek wil ‘n voorbeeld wees vir ander meisies.”

*Die publiek kan vir Anchané stem deur middel van ’n deposito waar elke stem R1 tel.
Stemme kan na die volgende rekening gestuur word:

Standard Bank
Miss United Continents South Africa
Takkode: 051001
Rekeningnommer: 061976660
Verwysing: “Anchané Pretorius + hoeveelheid stemme”

* Volg @missunitedcontinentssa en MissUCSA op Facebook vir die nuutste oor hierdie kompetisie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button