NewsNews

Ma geskok na ongeluk met koedoe

’n Jong ma ly steeds aan skok nadat sy Sondagoggend omstreeks 05:45 ’n koedoebul doodgery het

’n Jong ma ly steeds aan skok nadat sy Sondagoggend omstreeks 05:45 ’n koedoebul doodgery het.
Volgens Jennekin de Beer het die ongeluk op die Viljoenskroonpad gebeur.
“Ek was op pad terug van ’n koorkamp af. Dit was nog donker,” vertel sy. Die koedoe het op ’n blinde hoogte gestaan en aan mielies gevreet wat na wat vermoed word, van ’n trok afgeval het. “Ek het hom eers gesien toe hy reg voor my was. Ek het geweet hier is dit nou. Ek het geweet ek gaan hom tref. Al het ek probeer om uit te swaai, sou ek hom steeds getref en heel moontlik my kar gerol het,” sê sy.
Volgens haar was die slag toe sy hom tref baie erg. Hy het bo-oor die kar gerol en met sy momentum die agterruit ook uitgeslaan.
“Dit het baie vinnig gebeur, maar die slag het in “slow motion” gebeur. Ek kon dit nie glo nie, die geluid van knersende metaal en glas wat breek sal my altyd bybly. Die hele voorval speel oor en oor in my kop. Dit kon soveel erger gewees het. Dit is net die Here se genade dat ek nie ernstig beseer is nie,” vertel sy. Onmiddellik na die ongeluk het sy die koedoe gaan soek, maar kon hom nie vind nie. Sy het gedink dat sy nog verder kan ry en nie besef die skade aan haar kar is so erg nie. Sy het haar man, Leandro gebel, wat die polisie in kennis gestel en haar gaan help het. Met haar man se aankoms het hulle die koedoe in die gras, ongeveer twee meter van die pad af, gevind.


“Ek is regtig hartseer oor my kar, dit het sentimentele waarde vir my. Ons het die kar saam met ons teruggebring van Engeland af, maar ek dink dit het nog nie ingesink dat ek eintlik kon dood gewees het nie,” sê sy.

Related Articles

Back to top button