NewsNews

‘Niks fout met telefoonkontrak nie’ sê munisipale bestuurder

Volgens dr. Nomathemba Blaai-Mokgethi, munisipale bestuurder, was daar niks fout met die sowat R10 miljoen se telefoonkontrak nie.

Volgens dr. Nomathemba Blaai-Mokgethi, munisipale bestuurder, was daar niks fout met die sowat R10 miljoen se telefoonkontrak nie.
Die Herald het verlede week berig dat sy ’n kontrak goedgekeur het wat die raad ongeveer R360 000 per maand vir die volgende drie jaar uit die sak sal jaag.
Die DA het kapsie gemaak teen die toekenning van die kontrak omdat dit nie deur ’n raadsbesluit goedgekeur is nie, die verkrygingsprosedures omseil is en dat daar nie begroot is vir die uitgawe nie.
Volgens Blaai-Mokgethi, moes die telefoonstelsel in Potchefstroom opgradeer word omdat dit reeds 10 jaar oud was.
“Ons wou al voor die samesmelting die opgradering adverteer, maar is aangeraai om te wag tot na die samesmelting plaasgevind het,” het Blaai-Mokgethi gesê.
Na die samesmelting het sy glo besef dat ’n kontrak in Ventersdorp reeds aan ’n maatskappy toegeken is om Ventersdorp se stelsels op te gradeer.
“Ek het ’n regsopinie gekry wat gesê het dat ons liewer die kontrakteur wat reeds deur die proses was en ’n kontrak gekry het, aanstel omdat ons die risiko loop om werk te dupliseer,” vertel Blaai-Mokgethi.
In kort doen die kontrakteur reeds werk vir die NW405 munisipaliteit wat die wettige opvolger vir beide Tlokwe en Ventersdorp is. Op grond daarvan is die kontrakteur aangestel om die werk wat in Ventersdorp gedoen is, net in Potchefstroom voort te sit.
Dit is ook waarom die normale verkrygingsprosedures nie gevolg is nie.
“Ek weet ook nie hoekom raadslede kla dat daar nie begroot is vir die projek nie, die ou kontrak wat vir 10 jaar al betaal word is gekanselleer, so die geld wat daarvoor begroot is sal nou gebruik word vir die nuwe kontrak. Daar is ook ’n R13 miljoen se oorgangstoelae wat gebruik word vir die kontrak,” het sy gesê. Blaai-Mokgethi het stawende dokumentasie hiervoor gewys.
Volgens haar is daar baie sulke kontrakte wat ver oor die tydperk gaan as wat dit veronderstel is. Sy het genoem dat sy onlangs ’n kontrak wat vir die afgelope 29 jaar deur die raad betaal word, stopgesit het.
“Ek probeer alles regruk, maar niemand maak ’n geraas wanneer ek die soort kontrakte stopsit nie,” sê sy.

Related Articles

Back to top button