NewsNews

Nóg ‘n NWU student verlede week oorlede

"Sy was 'n pragtige mens en sal sekerlik baie gemis word," sê Prof. Fika Janse van Rensburg oor Suné de Villiers, 'n eerstejaar BCom Bemarking en Bestuur-student aan die NWU se Potchefstroomkampus wat verlede Woensdag oorlede is na 'n gewas op haar brein gevind is.

‘n Eerstejaarstudent aan die NWU is verlede Woensdag weens ’n gewas op die brein oorlede.
Die student, Suné de Villiers, is nou die agtste student aan die NWU se Potchefstroomkampus wat die afgelope twee maande oorlede is.
Suné, ’n B.Com. Bemarking en Bestuur-student, is verlede week met ‘n gewas op haar brein gediagnoseer. Sy is eers in die Polokwane Privaathospitaal opgeneem waar besluit is dat ’n operasie moet plaasvind.
Haar ma, Veronica Badenhorst, het op Facebook gesê Suné se bloedplaatjietelling was egter te laag en sy moes eers ander bloedplaatjies met anti-liggaampies kry.
Suné is die volgende dag oorgeplaas na Pretoria-Oos Hospitaal vir verdere behandeling.
Die Herald is Woensdag in kennis gestel dat Suné aan asemhalingstoestelle gekoppel is om haar aan die lewe te hou, maar sy is dieselfde dag oorlede.
Die kampusrektor, prof. Fika Janse van Rensburg, sê die kampus het vanjaar al verskeie tragiese voorvalle gehad waar studente oorlede is.
“Suné se afsterwe is ‘n groot skok vir ons. Ons dink in hierdie tyd aan haar ouers, familie en vriende. Sy was ‘n pragtige mens en sal sekerlik baie gemis word.” sê hy.
Sy laat haar ma, pa, stiefpa, stiefbroer- en suster agter.
Drie damesstudente, Elinda Booysen, Marguerite Brink en Jeanette Theron is aan die einde van Februarie in ‘n motorongeluk dood.
Kort daarna het Nicola Badenhorst aan breinvliesontsteking gesterf en Xavier Klein het verdrink.
Nie lank daarna nie, is Darryl Phahlamohlaka ook in ‘n motorongeluk dood en verlede week het die Herald berig oor Elinza Mostert wat haar stryd teen lewerkanker verloor het.

Related Articles

Back to top button