Local newsNewsNews

Een van die besigste strate in Bailliepark steeds propvol slaggate

Die kommerwekkende toestand van Wynnestraat in Bailliepark het inwoners en padgebruikers al vir die afgelope jaar warm onder die kraag. Wynnestraat is ook ‘n baie besige straat aangesien dit een van die hoof toegangroetes vanaf Paryslaan is.

Die kommerwekkende toestand van Wynnestraat in Bailliepark het inwoners en padgebruikers al vir die afgelope jaar warm onder die kraag.

Slaggate het die pad in ‘n haglike toestand gelos en ten spyte van gedurige druk van inwoners en wyksraadslid, Anné van Onselen, word daar weinig aan die situasie gedoen.

Een van die groot probleme is dat dele van die pad uitgesny is met die doel om herstelwerk te doen, maar nog nie afgehandel is nie.

“Ek het vanaf Augustus tot September al gevra vir dringende aandag in Wynnestraat. Die oorspronklike kontrakteur het ywerig al die uitsnywerk in Julie gedoen. Toe gebeur daar net niks verder nie,” noem Van Onselen.

“Die padoppervlak is nou al só beskadig waar die uitsnywerk gedoen was, dat groot dele van die pad heeltemal van voor af en oordentlik oorgeteer sal moet word,” noem sy verder. Wynnestraat is ook ‘n baie besige straat aangesien dit een van die hoof toegangroetes vanaf Paryslaan is.

Dit is sodoende belangrik dat die padoppervlak herstel word aangesien dit ‘n veiligheidsrisiko vir motoriste is en ook skade aan voertuie kan besorg.

“Dis amper onmoontlik om met ‘n gewone voertuig nog daar te ry. Ek het persoonlik beleef dat sommige bakkies en groter voertuie (SUV’s) steeds jaag – selfs al is die pad in so ‘n aaklige toestand,” voer Van Onselen verder aan.

Van Onselen noem ook dat sy by die Spesiale Raadsvergadering met die waarnemande munisipale bestuurder (Sandile Tyatya) gesels het en vir ingryping gevra met die onderneming dat daar na die toestand van die pad gekyk sal word.

Die Bailliepark Gemeenskapsprojek (BPGP) het ook al besluit om in te gryp en die slaggate te begin vul, danksy donasies, maar met die baie reën die afgelope tyd is dit nie moontlik om met die teermengsel ‘n slaggat vol water te vul nie.

“Dit is belangrik dat die pad gedurig in stand gehou word om te voorkom dat die paaie verval, anders spring daar gedurig gate op,” noem Altus Klingenberg van die BPGP, wat verantwoordelik is vir die BPGP se padherstelprojek.

Die BPGP het reeds verskeie strate in Bailliepark se slaggate herstel en padstrepe geverf. Vir dit om aanhou te gebeur moet daar donasies wees om teermengsel te koop.

Verskeie inwoners het al ruim donasies gegee, maar ander voel dit is die taak van die munisipaliteit.

“Sodra omstandighede dit toelaat en daar tyd is om die slaggate behoorlik skoon te maak sal daar beslis op Wynnestraat gefokus word as deel van ons projekte,” noem Klingenberg.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button