Local newsNewsNews

Lae watervlak in Vyfhoek reservoir skep waterkrisis

Beurtkrag affekteer wel ook die pompstasie se kapasiteit om die reservoirs se vlakke voldoende te lig sodat die verbruik nie die voorsiening oorskry nie

‘n Buitegewone lae watervlak in die Vyfhoek reservoir is een van die redes dat daar geen water en swak waterdruk sedert vanmiddag (13 September) in verskeie woonbuurte in Potchefstroom is. Dit blyk dat die aanhoudende beurtkrag sowel as ‘n lek op die hooflyn hierdie probleem veroorsaak.

Hierdie waterprobleem affekteer tans vir Bailliepark, Van der Hoffpark, Dagbreek, De Land, Tuscany Ridge, Mooivalleipark en Grimbeekpark. Al hierdie areas word deur die Vyfhoek reservoir gevoed.

Volgens DA wyksraadslid, Anne van Onselen blyk dit dat daar ‘n sameloop van faktore, insluitend beurtkrag, tot die huidige krisis bygedra het.

“Die uitpomp van water is ook meer as waarmee Waterwerke kan voorbly met die inpomp van water in die Vyfhoek reservoir in. Waterwerke gaan met al vier pompe pomp sodra die 18:00 beurtkragsessie verby is. Die plan is om hopelik die watervlak tot ten minste 50% deur die nag te lig voordat daar weer om 02:00 beurtkrag is,” verduidelik sy.

Daar blyk ook ‘n lek te wees op die hooflyn na die reservoir toe. Inwoners word gemaan om terwyl die waterdruk sleg is nie nou hulle tuine nat te spuit nie en waterverbruik te minimaliseer.

“Beurtkrag affekteer ook die pompstasie se kapasiteit om die reservoirs se vlakke voldoende te lig sodat die verbruik nie die voorsiening oorskry nie,” verduidelik Van Onselen.

Die JB Marks Munisipaliteit het bevestig dat ‘n gebarste pyp op die waterlyn van die Lakeside Water aanleg,  die hoofrede vir die watertekort is.

“Munisipale beamptes doen tans herstelwerk. Inwoners word gevra om water spaarsamig te gebruik,” het JB Marks Munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite genoem.

Daar is ook ‘n aparte probleem in Potch Industria en die omliggende area met die water wat al vir twee dae af. Dit is nog onseker wat die watertekort daar veroorsaak.

*Sodra die Herald nuwe inligting ontvang sal die berig opgedateer word.

Related Articles

Back to top button