Musiekinstrument vertel ’n mooi storie van die monument

In ons kultuur bring musiek mense saam. Met die inwyding van die VTM was daar ’n enorme samekoms, met mense wat vir dae lank hiér uitgekamp het en musiek wat oral uit tente uitgepeul het.

Daar was nog nooit vantevore ’n musiekinstrument met ’n illustrasie van die Voortrekkermonument in die Erfenisstigting (ES) se besit nie, maar vandag is die monument die trotse eienaar van ’n ou Gallotone-kitaar, kompleet met ’n monumentkunswerk daarop.

Die verhaal van die Voortrekkers is ’n kleurvolle verhaal van deursettingsvermoë en seges, wat dig deurweef is met musiek en die afgelope week is één so verhaal weer by die monument vertel toe oom Petrus Swanepoel, van Lesley in Mpumalanga, ’n kitaar wat tydens die inwyding van die Voortrekkermonument (VTM), in 1949, deur sý tannie gespeel is, aan die monument geskenk het.

Petrus Swanepoel en sy vrou, Nellie

Dié kitaar is aan oom Petrus se tannie, Babsie Swanepoel (née Pelser), as ’n geskenk gekoop in dieselfde jaar wat die monument ingewy is. Na Babsie se dood in 2008 is die kitaar aan oom Petrus besorg.

Oom Petrus vertel dat hy en sy geliefde vrou Nelie die monument nog gereeld besoek en daarom het hul besluit om sy tannie se kitaar aan die ES te skenk. “Items soos hierdie is baie skaars én uniek, dié dat ons besluit het dit hoort hier by die
monument.

“Ons is nog altyd baie trots op ons herkoms en ons erflating en daarom is ons dankbaar dat die kitaar hiér kan wees, waar sy storie eintlik begin het,” sê Swanepoel.

Lizette Jansen, bestuurder van die ES, sê hierdie unieke skenking vertel ’n baie mooi verhaal uit die geskiedenis van die Afrikaner.

“In ons kultuur bring musiek mense saam. Met die inwyding van die VTM was daar ’n enorme samekoms, met mense wat vir dae lank hiér uitgekamp het en musiek wat oral uit tente uitgepeul het.

“Daar was in die tyd ook verskeie musiekgroepe wat hier opgetree het en dit is wat hierdie skenking so spesiaal maak – nie net is dit ’n besonderse mooi ou kitaar nie, maar dit was fisies ook deel van die monument se verhaal en geskiedenis,” sê Jansen.

Die Voortrekkers het ’n ryk kulturele en musikale erfenis wat regoor oor die monumentterrein uitgebeeld word. Van die eerste friespaneel en selfs in foto’s van mense wat op 16 Desember 1949 die inwyding bygewoon het, en nóú ook die kitaar wat na 75 jaar sy weg terug na die monument gevind het.

Monique Lubbe, museumassistent by die Voortrekkermonument, sê sy is baie opgewonde om so ’n unieke stuk geskiedenis in die museumstoor te kan opneem.

Die Gallotone-kitaar saam met ‘n houtsneewerk

“Die Afrikaner se stories word al vir jare lank deur musiek vertel – Hier by die monument sien ons die Afrikaner se liefde vir musiek in die foto’s in ons argief, ons lees dit in die geskiedenisboeke en historiese dokumente, ons sien dit binne in die monument op die friespanele én vandag ook met hierdie spesiale skenking.

“Ons het nie so kitaar in ons versameling nie, so dit is wonderlik om ons unieke versameling hiermee te kan uitbrei,” sê Lubbe.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button