Leerders baat by Parys-onnies se kennis en passie vir Afrikaans

'n Besonderr prestasie vir dié twee Parysenaars

Nie net is hulle uitstaande onderwysers in hul vakgebied nie, maar is Ezilda Fouché en Andrea Dednam, albei onderwysers van Hoërskool Parys, die skrywers van ‘n addisionele Afrikaanse Huistaal Studiegids vir graad 10 tot 12 leerders. Ezilda vertel dat Kathie Viljoen van Penguin Random House en Lapa Uitgewers (ook betrokke by Klaskameraad) haar in 2023 gekontak het om te hoor of sy sou belangstel om’n boek te skryf met addisionele taaloefeninge vir graad 10 tot 12 taalleerders,

“Ek glo sy het aan my gedink omdat ek al vir jare oefeninge in die Klasgids, ‘n vaktydskrif vir Afrikaansonderwysers, skryf,” gesels Ezilda.
Aan die begin van die jaar het Kathie weer vir Ezilda gekontak en gevra of sy iemand kan aanbeveel om haar te help. “Ek het nie eers getwyfel nie : Andrea met haar pligsgetrouheid en Afrikaanse kennis was die logiese keuse, en sy het ook al die afgelope twee jaar in Klasgids gepubliseer.”

Andrea het ingewillig, en die twee het dadelik aan die werk gespring.

Gelukkig het die Maart-vakansie hulle baie tyd gegee om aan die addisionele studiegids te kon werk.

Naas hul bydraes in Klasgids, het Lapa Uitgewers in 2023 ook ‘n vraag-en-antwoordboek vir graad 10 tot 12 leerders aan Ezilda opgedra.

Ezilda en Andrea deel nie net hul passie vir Afrikaans nie, maar het sommer baie in gemeen.

Albei hou skool by hul Alma Mater waar hul gematrikuleer het. Ezilda is sedert 1987 deel van Hoërskool Parys se personeel, en Andrea vanaf 2020.

Vanjaar gee albei klas in Afrikaans Huistaal vir graad 10 tot 12 leerders, terwyl Andrea ook die graad 12 Eerste Addisionele Taalklas die afgelope 10 jaar het.

“Ons albei is baie lief vir Afrikaans, en glo dat jou moedertaal ‘n onmisbare rol speel in die ontwikkeling van die kind. Navorsing het oor en oor bewys dat basiese konsepte (wat die boustene vorm vir latere doeltreffende leer) die heel beste deur moedertaal-onderrig vasgelê word.
“Ons almal weet Afrikaans kry deesdae die wind van voor, maar Afrikaans is tog die taal van ons hart, die taal waarin ons bid – die taal van ons menswees,” gesels dié twee juffrouens wat hul liefde vir taal uitleef in die klaskamer, maar ook in die gids waarby baie ander graad 10 tot 12 leerders en taalonderwysers sal baat.

Related Articles

 
Back to top button