Evas leer die kuns van versier

Om die besige skedules van vroue tegemoet te kom, is die maandelikse saamkuier en kreatief wees op 'n Saterdagoggend net van 10:00 -12:00.

Saterdagoggend het ‘n rekordgetal vroue, van speenoud tot seniorstatus, koekies versier onder die bekwame oog van Tarina Naudé, baas koekversierder in die kontrei van Sweet Insanity Cakes.

Die wat gedink het dit is kinderspeletjies, het gou besef dat dit ‘n fyn kuns is. Tegniese aspekte soos die vou van ‘n papier versierbuis, en hoe om die regte tekstuur vir die versiersuiker te bepaal, is verduidelik.

Daarna het die pret begin. Pragtige eerste pogings het die lig gesien, en almal is begeesterd met hul koekie-kunswerke daar weg. Die positiewe gesindheid en kreatiewe aktiwiteit het vir ‘n genotvolle oggend gesorg.

Wie is die Evas?
Die Evas het onstaan na `n lighartige gesprek oor `n koppie koffie na kerk wat gelei het tot die gereelde en gesellige maandelikse samekoms van kreatiewe vroue in die NG Suid Kerksaal in Delverstraat.

Dié breinkind van Susan Brits is `n poging om vroue van alle ouderdomme bymekaar te kry om vaardighede aan te leer, geïnspireer deur die Bybelse beginsel dat ouer vroue die jongeres moet leer. Tog het dit gou geblyk dat dit `n oor-en-weer leerdery sou wees.

Daar is onder meer al papiervoukuns, basiese Macramé, en kleimodellering gedoen. Om die besige skedules van vroue tegemoet te kom, is die maandelikse saamkuier en kreatief wees op ‘n Saterdagoggend net van 10:00 -12:00. Die verrigtinge word afgesluit met tee, koffie en `n versnapering. Betyds om nog die res van die Saterdag tuis te geniet. Alles gratis en verniet.

Die volgende geleentheid vind plaas op 8 Junie. Kontak Susan by 061 091 4609 vir meer inligting oor die volgende saamkuier, en om jou plek te bespreek.

Almal is welkom, maar die getalle is beperk. Antwoord dus so gou as moontlik.

Related Articles

Back to top button