President gaan AfriForum-aansoek oor Ngwathe teenstaan

Die groep organisasies, wat vandag in 'n prostesoptog kollektief onder die Metsi Pompong Waterinisiatief opgetree het, dring daarop aan dat daar sonder verdere verwyl aan hul eise gehoor gee word.

In ‘n drastiese wending die afgelope week het president Cyril Ramaphosa
aangedui dat hy AfriForum se aansoek om die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit
onder administrasie te plaas, wil teenstaan.

Die president is slegs weens sy oorsigtelike rol as respondent gevoeg in AfriForum se saak teen Ngwathe weens dié munisipaliteit se gebrekkige
dienslewering en voortdurende waterkrisis.

AfriForum het vroeër vandeesmaand hofstukke by die Bloemfonteinse Hooggeregshof ingedien vir die aansoek.

Die saak is aanvanklik op die hofrol geplaas vir 20 Junie en is AfriForum nog nie na die jongste verwikkelinge van ‘n nuwe hofdatum in kennis gestel nie.

Die burgerregte organisasie het in ‘n verklaring gesê dit “blyk dat
President Ramaphosa die gebrek aan dienslewering en die verval in hierdie
munisipaliteit goedkeur, eerder as om in te gryp en toe te sien dat inwoners van veral Parys en Heilbron wat ook onder die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit val, van water en basiese dienslewering voorsien word.

In hul hofstukke het AfriForum aangevoer dat die munisipaliteit faal om ’n
veilige en leefbare omgewing vir inwoners te verseker.

Daar word verder gesê dat die munisipaliteit nie daarin slaag om maatskaplike en ekonomiese groei in die gemeenskap te bevorder nie, misluk om uiting te gee aan basiese behoeftes van die gemeenskap, dat daar ‘n algehele gebrek
aan begrotings en beplanningsprosesse is, en nie daarin geslaag word om die
munisipale administrasie te struktureer en te beheer nie.

Inwoners van Heilbron gaan steeds gebuk onder waternood weens Ngwathe se
onvermoë om sy skuldverpligting teenoor Rand Water na te kom.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier sê dienslewering bestaan in die algemeen nie in die Ngwathe Munisipaliteit nie.

AfriForum en verskeie plaaslike gemeenskapsorganisasies, gemeenskapsleiers en inwoners van Parys, Tumahole en Schonkenville het ook vanoggend, Donderdag 23 Mei, ‘n vreedsame protesoptog na die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gehou oor die dorp se voortslepende waterprobleme.

“Dié groepe se gemeenskaplike dors na geregtigheid én skoon
drinkwater laat hulle nou saam standpunt inneem teen dié munisipaliteit
se onvermoë om skoon drinkwater aan die nagenoeg 50 000
inwoners van Parys en die omliggende nedersettings te
bied,” is Dinsdag, 21 Mei in ‘n verklaring gesê.

Die groep organisasies, wat vandag in ‘n prostesoptog kollektief onder die Metsi Pompong Waterinisiatief opgetree het, dring daarop aan dat daar sonder verdere verwyl aan hul eise gehoor gee word. Die eise is vervat in ‘n memorandum wat na afloop van die optog aan die munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, oorhandig is.

Verteenwoordigers van AfriForum en Departement Waterwese en Sanitasie vergader môre met die bestuur van die Ngwathe munispaliteit oor die waterkwessie en sake wat in die memorandum uitgelig is.

(Volledige berig oor die protesoptog en memorandum volg)

Exit mobile version