Provinsie eis projekgelde terug

Provinsiale Tesourie het 'n astronomiese R68,5 m se infrastruktuur projekgelde van die Ngwathe munisipaliteit teruggeëis.

Die provinsiale tesourie het aangedui dat dit van November 2023 se billike aandeel (Equitable Shares) verhaal sou word.

Dit is inderdaad dan ook teen die betaling aan Ngwathe op 6 November 2023 verreken, sê Vryheidsfront Plus rdl. Philip van der Merwe. Ngwathe se hoof finansiële beampte het daarna op 17 November aansoek gedoen dat die aftrekking omgekeer word, en verhaal sal word in drie paaiemente van R18,5m, R20m en R30 m in Desember 2023, Maart 2024 en Julie 2024 onderskeidelik.

Die burgemeester het klaarblyklik ook die provinsiale tesourie gaan besoek en is die Desember 2023 raadsvergadering meegedeel dat die versoek om die fondse na ‘n volgende boekjaar oor te dra, uiteindelik tog aanvaar was, sê rdl. Van der Merwe.

Die burgemeester was egter nie by die raadsvergadering teenwoordig nie, en is die inligting namens haar oorgedra. Geen bedrae is genoem nie, en kon daar nie met Gazette se dryktyd bevestig word wat die posisie tans is nie.

Die R68,5 m was as volg saamgestel: R26,1 m uit munisipale infrastruktuur fondse, R15 m uit die Geïntegreerde Nasionale Elektrifiseringsprogram, en R27,4 m uit die Streeks Infrastruktuur toelae.

Infrastruktuur kapitaalprojekte val onder Ngwathe se Tegniese Departement en sy projekbestuurseenheid, waar daar lank reeds ‘n ernstige bestuurskrisis is.
By die toeken van fondse vir kapitale infrastruktuurprojekte, word vereis dat die projekgeld spandeer moet word binne die finansiële jaar waarin dit toegeken is.

Waar projekte weens billike redes nie deur ‘n kontrakteur binne die gegewe kontraktermyn voltooi kon word nie, kan aansoek gedoen word dat die projekgeld oorgedra word na ‘n volgende finansiële jaar.

Hoewel Ngwathe probeer het om van die projekte oor te dra, is dit afgekeur.

Die Ngwathe munisipaliteit sit boonop met verskeie onvoltooide projekte, grotendeels weens die onbekwaamheid van kontrakteurs wat nie na wense presteer het nie. Die probleem hiermee is dat in van die gevalle kontrakteurs betaal is, en nog fondse nou gekry sal moet word om die projekte te voltooi.

Van die onvoltooide projekte binne die Ngwathe munisipale grense sluit onder meer die voetgangerbrug by Sandersville in Heilbron in, en ‘n pad wat tussen Heilbron en Phiritona gebou moes word. So ook die werk wat by die Vredefort watersuiweringswerke gedoen moes word en die vergroting van die rioolaanleg in Vredefort.

Die EFF se Bosanku Msimanga, het verlede week in ‘n onderhoud op The Current Review, ook melding gemaak van die toegekende projekgelde wat terugbetaal moes word, en gesê dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit van een krisis na ‘n ander beweeg.

Daar is verwys na die munisipaliteit se waterprobleme en die manier waarop geld spandeer word. Ook die kwessie rondom een van die munisipaliteit se senior beamptes in die finansdepartement, Themba Mpinda wat vroeër aangerand is deur ‘n Ngwathe werknemer wat deel is van die Expanded Public Works Programme.

Mpinda word sedert 3 Januarie oënskynlik toegang tot sy kantoor geweier, en het hy vandeesweek aan Gazette gesê dat nog geen verduideliking deur die munisipaliteit se senior bestuur gegee is oor die redes hiervoor nie.

Hy sê hy het ook nog geen skriftelike kennisgewing gekry van enige ondersoek, verpligte verlof of tydelike skorsing om die optrede te regverdig nie. Hy sê hy is gefrustreerd met die situasie, en dat hy na twee weke ook nog geen antwoorde van die waarnemende munisipale bestuurder of hoof finansiële beampte kon kry nie.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button