Herlewing van kragstasie kan wateraanleg help

Die kragstasie het sedert 1912 krag aan Parys voorsien - meer as tien jaar voor die stigting van Eskom.

Verskeie maatskappye stel belang om Parys se ou hidro-elektriese kragstasie in Oranjestraat weer in gebruik te stel.

Die kragstasie het sedert 1912 krag aan Parys voorsien – meer as tien jaar voor die stigting van Eskom.

Dit was aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog die enigste munisipale kragvoorsiener aan die dorp, maar staan dié kragstasie die afgelope dekade in onbruik.
Gazette het onlangs weer berig oor herhaalde diefstal en vandalisme by die kragstasie.

Raadslede Saal de Jager en Arnold Schoonwinkel sê die hernude belangstelling het gekom na volgehoue pogings om die kragstasie onder die aandag van die ANC-beheerde Ngwathe munisipaliteit te bring as moontlike kragbron en wins vir die munisipaliteit.

Na hul volgehoue pogings die afgelope agtien maande, stel drie maatskappye nou belang om die kragstasie in gebruik te bring.
Anders as met wind en sonkrag, kan hidrokrag dwarsdeur die jaar dag en nag gebruik word.

‘n Groot deel van die Parys se aanleg is reeds gebou en getoets, en van die kragopwekkingseenhede kan van die rak af in Duitsland gekoop word om byna onmiddellik geïnstalleer te word, sou die inisiatiewe aanvaar word, sê die raadslede.

Volgens rdl. De Jager sal dié krag, sou dit hier opgewek kan word, veral nuttig wees vir die munisipaliteit se watersuiweringsaanleg wat op die oomblik tot stilstand kom wanneer Eskom beurtkrag toepas.

Die ou hidro-elektriese aanleg is langs die watersuiweringsaanleg geleë.

Intussen wag Parysenaars steeds op die beloofde noodbystand kragopwekker wat vir die watersuiweringsaanleg gebou en geïnstalleer moet word.
Hulle sê die hidro-elektriese kragstasie mag dit dalk selfs heeltemal onnodig maak vir ‘n kragopwekker volgens die mening van een van die belangstellende maatskappye.

Related Articles

Back to top button