Skoolhoof groet: “Ek gaan julle baie mis”

"Ons is opgewonde om te sien wat daar vir ons wag, maar wat ek die meeste sal mis is die band met die kinders. Ek was baie lief vir hulle."

“Dit is vir my die lekkerste lekker om tussen kinders te wees. Ek gaan al die drukkies en glimlagte mis. Ek gaan dit mis om in die middae hier by die hek te staan en sommer net drukkies te kry as die dag in die kantoor moeilik was. Ek gaan al die Doritos mis, die biltong en die droë wors – maar meeste van alles gaan ek julle mis.”

Met dié woorde het mnr. Shaun Strydom Vrydag die personeel en leerders van Parys Primêre skool gegroet op sy laaste dag as hoof van dié skool. ‘n Pos wat hy die afgelope drie jaar en sewe maande met groot toewyding behartig het. Shaun en sy vrou, Adelé, wat ook onderwyseres by die skool in die grondslagfase was, vertrek op 10 Augustus om ‘n nuwe uitdaging aan te pak in die stad Ajman, 40km buite Dubai waar hulle en hul kinders, Wihan en Imari, hulle gaan vestig.

Shaun en Adelé Strydom.

Beide Shaun en Adelé gaan steeds in die onderwys wees waar hulle daar vir ‘n Amerikaanse maatskappy sal werk wat saam met die regering van die Verenigde Arabiese Emeritate skole oprig om kinders aan die westerse kurrikulum bloot te stel binne hul eie kultuur. Hulle sal by dieselfde skool onderwys gee en begin in hul nuwe poste op 28 Augustus.

Sy tyd as hoof by Parys Primêr beskryf hy as ‘n uitdagende tyd midde van die Covid-19 pandemie, maar sê hy dat dit vir hom ‘n geleentheid was waarheen die Here hom gelei het juis in ‘n tyd van uitdagings.

Hul besluit om te emigreer is vir die Strydom-gesin ‘n absolute geloofstap. “Ons het gedoen wat Hy wou hê ons moet doen, en nou gaan ons waar Hy ons wil gebruik. Ons het soveel vrede.”

“As die Here ons oor ‘n paar jaar wil terugbring na Suid-Afrika, is dit goed, en sal ons ‘n paar goed geleer het. Die Here haal jou nie uit een seisoen as Hy nie vir jou ‘n oes in die volgende seisoen voorberei het nie,” sê hy in ‘n laaste onderhoud met Gazette voor die gesin se vertrek.

“Ons is opgewonde om te sien wat daar vir ons wag, maar wat ek die meeste sal mis is die band met die kinders. Ek was baie lief vir hulle.” En dit is daardie opregte omgee en liefde vir die kinders wat jy ook sien wanneer die egpaar op die skoolstoepe beweeg en spontane kinderarmpies om hul nekke vou vir ‘n drukkie.

Wat hy ook sal onthou van sy tyd as hoof van Parys Primêr is die “sense of community” soos hy dit stel. Mense vir wie hul kinders, en hul kinders se toekoms belangrik is. Mense wat inspring en moue oprol om te doen wat gedoen moet word ten spyte van unieke uitdagings wat die dorp het.

“Na drie en ‘n halwe jaar het ons ‘n ongelooflike groep vriende gemaak. Dit vat tyd, en juis daarom is dit moeilik om nou weg te gaan. ”

Sy wens vir die skool vorentoe kom uit sy hart as hy sê – ons moet mekaar koester. Besef wat ons in mekaar het, en nooit uit die oog verloor dat alles in belang van ons kinders moet wees nie.

“Julle kinders was ook ons kinders. Die skool is op ‘n goeie plek en ek het rustigheid in my hart om te gaan.”
“Ons gaan in geloof, want in my en Adelé se harte is daar albei so ‘n bietjie ‘gypsy-wees’. Ons soek altyd ‘n uitdaging – ‘n plek waar ons ‘n verskil kan maak.”

Vrydag het hy vir oulaas by elke klas omgeloop – gaan groet, drukkies gegee en ‘n foto geneem saam met elke klas met groe- teboodskappe wat spesiaal vir ‘meneer’ in Arabies geskryf is.

Die koor het gesing vir die Strydom-egpaar, waarna hy ook ‘n boodskap vir elke kind gehad het: “Julle is gemaak om uit te staan. Ons is nie gemaak om in die skadu’s te leef nie. Ek wil hê jy moet jou waarde verstaan. Wees lief vir mekaar, wees goed vir mekaar.”

Na sy boodskap was daar ‘n snytjie koek vir elke kind, en ‘n laaste bederf van die hoof – om vroeg huis toe te kon gaan.
Allezeth Ribberink, adjunkhoof van Parys Primêre skool sal nou volgens die departement van onderwys se protokol waarneem as hoof met die ondersteuning van die skool se bestuurspan.

Foto-erkenning: Marais Nell

Shaun en Adelé Strydom saam met mnr. Lucien van Zyl, skoolhoof van Hoërskool Parys, en sy vrou, Verona. Foto erkenning : Marais Nell

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button