Stiefkinders maak my lewe hel! Wenke vir stiefouers

’n Opvoedkundige sielkundige gee raad oor hoe om die 'aaklige stiefma' baadjie af te skud en 'n goeie verhouding met jou maat se kinders te bou.

 

Jy ontmoet die man of vrou van jou drome! Hy/sy is gaaf, ondersteunend en konsidererend. Alles werk so goed, tot sy bedorwe kinders by julle kom kuier, of intrek en jul huishouding oorneem. Jou meubels word verniel, die reëls wat nog altyd vir jou kinders geld, geld nie sy kinders nie. Hul gedrag is onaanvaarbaar, maar jy is die een wat veroordeel word, ‘want foeitog, hulle het al so swaar in die lewe gehad’.

Die titel ‘stiefma’ hang skielik om jou nek.

Om stiefma te wees

‘Stiefma’ is ’n gelaaide woord wat mense van kleins af vereenselwig met iemand wat aaklig en wreed is. In sprokies verwerp en verstoot sy haar stiefkinders: Hansie en Grietjie word in die bos agtergelaat en Sneeuwitjie word vergiftig. In hersaamgestelde gesinne bring kinders meestal ’n warboel emosies, seerkry en verlieservarings saam met hulle: “Ek het op ’n manier ’n mamma of ’n pappa verloor,” of “My ouers neem besluite wat my lewe verander en ek het geen sê daarin nie.”

 

Image: Jolande/Pixabay

 

Die kinders moes dikwels uit ’n bekende omgewing na ’n ander huis of buurt trek. Soms bly van hul meubels, klere, speelgoed, troeteldiere of ander hartsgoed waarmee hulle grootgeword het agter. As hulle nog boonop van skool verander, verloor hulle hul maats en hul plek in groepe en sportspanne. Hulle verlang boonop na hul ander ouer en hul ou lewe en voel dikwels hartseer, kwaad, verwerp, skuldig, magteloos of uitgelewer aan situasies waarin hulle nie ’n keuse of beheer het nie.

Kinders wil meestal baie graag die verhouding met hul eie ouers bewaar. Hulle wil nie die ouer ook nog verloor nie en hulle sal liewer die ma of pa se nuwe lewensmaat vir die veranderinge en verliese verkwalik. Soveel dinge wat tuis gebeur en wat hul eie ma of pa moontlik mag doen, word onverdiend op die stiefouer geprojekteer. Die eie ouer, veral die een by wie hulle nie woon nie, word verheerlik en die stiefouer word verdoem tot alles wat sleg is. Dit maak dit vir die nuwe lewensmaat baie moeilik. Sy of hy kan meestal min doen wat reg of goed in die oë van die stiefkinders is.

 

 

Twee stiefma’s vertel

Christelle vertel hoe moeilik haar man se tiener, Johan, haar lewe maak: “Voor sy pa is hy die ene onskuld en hy sal, hoewel steeds stug, al die dinge doen wat hy gewoonlik weier om te doen en waaroor ek ontsteld raak. Vir sy pa vertel hy dat ek lelik met hom is, maar as sy pa nie by is nie, sal hy selfs weier om my te groet as ek hom by die skool oplaai. Hy antwoord nie as ek praat nie, sê nie asseblief of dankie nie. Hy sal my selfs doelbewus stamp, of in my vasloop – sonder om verskoning te vra. As ek hom vra om iets te doen, ignoreer hy my. Dis asof daar geen klank by my mond uitgekom het nie.”

“Hy doen net wat hy wil en aanvaar geen verantwoordelikheid nie. Hy vat my goed, vat kos uit die yskas sonder om te vra. Maak nie skoon nie. Los vuil skottelgoed oral, of hy verdwyn sommer net sonder om te sê waarheen hy gaan. Hy ignoreer elke reël of versoek van my kant af. Hy knou my seuntjie af en breek sy speelgoed. Ek is moedeloos. Vir sy pa sê hy ek lieg en is ongeskik met hom. ”

Lees ook: Jy kan jou kind swaarkry help verwerk

“My man is ook nie konsekwent nie, want hy wil so graag ’n goeie verhouding met sy seun hê – hy is bang Johan wil liewer by sy ma gaan bly. Volgens sy pa en ma is alles reg en is daar niks fout nie. Maar die skool bel my om te sê hy doen nie sy werk nie en het ’n houding. Sy pa en ma glo die fout lê by die onderwysers, die skool, iets of iemand anders … Hulle probeer so hard om sy guns te wen. Ek leef vir elke tweede naweek wanneer hy by sy ma is. Dan het ons ’n normale huis met ’n lekker atmosfeer.”

Ansie vertel hoe hard sy probeer het om goed vir haar man se kinders te wees. Hul ma was in ’n inrigting vir alkoholiste.

“Ek lees vir klein André sy gunsteling-slaaptydstories. Maak seker sy kamer is mooi, sy bed warm en dat hy lekker skoolkos het, help hom met sy huiswerk, neem hom daagliks na sy rugby, krieket, of om by sy maatjies te gaan speel. Ek was ontsteld, hartseer en teleurgesteld om te hoor hoe hy in sy kamer vir sy eie ma vertel dat ek kwaai en aaklig is. En dit ná alles wat ek vir hom doen – goed wat sy eie ma nie eens sou doen nie. ’n Terapeut moes my help om te besef dat dit nie oor mý gaan nie: dis maar net ’n hartseer seuntjie wat sy mamma mis. En dat sy hom boonop teen my opmaak en hy juis dié dinge sê om haar goedkeuring te kry.”

 

Foto: Bonnie Kittle/Unsplash

 

Moeilike situasies waarin stiefouers hulself bevind

 

Foto: Jonathan Borba/Unsplash.

 

Bou ’n goeie verhouding met jou maat se kinders

 

Foto: Naassom Azevedo/Unsplash

 

Onthou hierdie belangrike punt

Die belangrikste ding wat kinders in ’n hersaamgestelde gesin nodig het, is ouers wat met volwassenheid, begrip en respek optree. Aanvaar en verwag dat dinge nie altyd maklik gaan wees nie. Fokus liewer daarop om maniere te bedink hoe ons as gesin dinge vir mekaar beter kan maak sodat almal aanvaar, gelukkig, tuis en geliefd kan voel. Maak seker dat jou optrede, gesigsuitdrukkings, woorde en gedagtes dié doel dien.

*Anys Rossouw is ’n opvoedkundige sielkundige in Menlopark, Pretoria.

Die artikel Stiefkinders maak my lewe hel! Wenke vir stiefouers het eerste in Rooi Rose verskyn.

Exit mobile version