Brug oop, maar daar is skade

Voetgangers gewaarsku om versigtig te wees

Die Schoemansdrift-brug in die Vredefort Koepel is vanoggend, 27 Februarie, vir die eerste keer weer oop vir verkeer nadat die brug sedert die naweek van 18/19 Februarie vir verkeer gesluit moes word toe die watervlak van die Vaalrivier drasties begin styg het. Die watervlak het op 19 Februarie 5,532m by die Schoemansdrift-laagwaterbrug gemeet.

Teen vanoggend om 16:00 het die watervlak 2,24m by die brug gemeet, en die watervloei hier 997 kubieke meter per sekonde.

Hoewel die brug vanoggend droog was, was daar heelwat stompe wat die brug versper het. Teen 10:00 vanoggend het Sue Jansen van Rensburg laat weet dat die brug weer oop is vir verkeer, maar is voetgangers gewaarsku om versigtig te wees by gedeeltes van die brug waar die reëlings gebreek het.

Foto’s met dank aan Sue Jansen van Rensburg.

Interessant genoeg is die Vaalrivier se watervlak by die Schoemansdrift-laagwaterbrug nog net drie keer in die verlede bo 5m gemeet. Op 9 Februarie 1944 is die watervlak by die laagwaterbruggie gemeet op 5,303m. Op 22 Februarie 1975 is dit op 5,818m gemeet, en op 8 Januarie 2011 was die watervlak hier 5,138m. Dit beteken dat die vloed wat vanjaar gesien is nie was soos in 1975 nie, maar die naaste daaraan wat al oor die jare gesien is.

Vaaldam is nou 109,63% vol met invloei teen 390,87 kubieke meter per sekonde en die uitvloei teen 1033 kubieke meter per sekonde. Geen reënval is in die Vaaldam se opvangsgebied gemeet nie. Sewe sluise by Vaaldam sal oopgehou word.

Bloemhofdam is nou 105,93% vol met uitvloei teen 2823,3 kubieke meter per sekonde. Daar het 21mm reën in Bloemhofdam se opvangsgebied geval.

 

Related Articles

Back to top button