Slang pik held terwyl hy jongmans uit water red

"Ons glo die Here het ons die dag na presies daardie plek toe gestuur om die jongmense te help."

 

PARYS. – ‘n Jong man se verjaardagviering kon Sondag, 6 November, ‘n tragiese nadraai gehad het, was dit nie vir ‘n Vanderbijlparkse sakeman wat op die regte tyd daar was om twee feesvierendes uit ‘n vinnig-vloeiende stroom te red nie.

 

Mnr. Robin Janse van Rensburg en sy vrou Clarissa van Gold Exchange in Vanderbijlpark, het besluit om die Sondag weg te breek vir ‘n romantiese piekniek langs een van die Vaalrivier se systrome in Parys. ‘n Groep jongmense het ‘n entjie van hulle af ‘n verjaardagpartytjie gevier.

“Ons het skielik harde gille gehoor. Ek het aangeneem dis net die jongmense wat pret maak, maar Clarissa het gesê dit klink nie normaal nie. Sy was bekommerd dat iemand in nood was. Ek het gaan kyk en gesien twee jongmense het in die stroom beland en was duidelik in die moeilikheid. Hulle koppe het vir 10 tot 20 sekondes op ‘n keer onder die water verdwyn. Ek het besef hulle was besig om te verdrink en het besluit om in te spring en te gaan help,” sê Robin, wat ‘n goeie swemmer is. Hy het sommer in die hardloop sy klere en skoene uitgetrek en ingespring. In die haas het hy vergeet dat sy voertuig se elektroniese sleutel nog in sy sak was.

“Die twee manne was duidelik reeds uiters moeg toe ek by hulle kom. Ek het gesê hulle moet net aan my vashou, ek sou met hulle uitswem. Daar is baie takke en boomstompe onder die water waarin mens se bene en voete verstrengel kan raak. As mens eers daaraan vasgehaak het, is dit moeilik om jouself los te kry. Terwyl ek gestoei het om met hulle wal toe te swem, het ek skielik ‘n intense brandpyn aan my arm gevoel. Ek het gesien dat ‘n donkerbruin of swart slang van sowat een meter sy tande in my linkerarm ingeslaan het. Ek het hom van my arm losgeruk, eenkant toe gegooi en verder wal toe geswem,” sê Robin.

Na ‘n hele paar angstige minute wat hulle teen die stroom geveg en heelwat water gesluk het, is hy en die twee jonges met groot blydskap deur die geskokte feesvierenendes aan wal gehelp. Die groep het gevra om ‘n groepfoto saam met Robin te neem, en hoewel hy skynbaar onverstoord op die foto glimlag, het hy geweet die slangbyt aan sy arm moes dringend aandag kry. Clarissa het dadelik brandewyn by van die feesvierendes gekry en dit oor die wond, wat soos vuur gebrand het, uitgegiet. Sy het ook begin om die bytplek te suig in die hoop om enige slanggif te onttrek.

Dis eers toe die egpaar minute later wou ry dat hulle besef het die voertuigsleutel met die rekenaarskyfie is papnat.

“Normaalweg funksioneer so ‘n sleutel nie nadat dit in die water was nie, maar wonder bo wonder het dit nog gewerk,” sê Robin. Hulle is na ‘n plaaslike hospitaal, maar gelukkig het hy geen verdere behandeling vir die slangbyt nodig gehad nie. Die baie gelowige egpaar glo dat dit een van vele wonderwerke was wat daardie dag gebeur het. Robin sê hulle het gehoor dat vier mense voorheen op diesefde plek waar hy die seuns gered het, verdrink het en dat ‘n reddingspan ook al hier in die moeilikheid beland het.

“Ons glo die Here het ons die dag na presies daardie plek toe gestuur om die jongmense te help. Ons dank Hom vir Sy liefde en genade dat hy die kinders se lewens gespaar het,” sê Robin.

LEES DIE MOOI BOODSKAP VAN ROBIN SE VROU, CLARISSA:

This is what a hero looks like…

This is my husband, my very own superhero!

A man of God, who not only saves lives in the natural, but more importantly the spiritual. Whether it be by serving his country, jumping into to dangerous rivers to save drowning kids, or most importantly by preaching the gospel to the lost souls of today… He saves lives because he has Christ in Him. I’m the proudest wife ever, to have a husband like you. You’ve stood by me in my victories and my many MANY failures and you continue to inspire me to be the best I can be…

Lief vir jou my man, Robin Janse Van Rensburg – jys n ware engel…

 

Kenners se mening oor Robin se slangbyt

‘n Bekende plaaslike slangkenner, Vaughn Veale, sê dit is moeilik om uit die skrapse inligting te bepaal deur watter soort slang Robin Janse van Rensburg gepik is terwyl hy twee tieners uit ‘n stroom gered het.

Volgens Vaughn kan ‘n bruin slang moontlik ‘n nie-giftige molslang wees, en ‘n swarte moontlik ‘n rinkals, wat baie giftig is.

“‘n Rinkals pik baie selde en sal eerder spoeg. ‘n Molslang het groot, geboë tande wat redelike groot wonde kan veroorsaak, veral as mens dit van jou af moes losruk. In sommige gevalle is die wonde so groot dat dit met steke geheg moet word, maar gelukkig is ‘n molslang nie giftig nie. Dit kan wel ‘n brandsensasie soos dié van ‘n bysteek veroorsaak,” sê hy.

Vaughn sê dit word nie aanbeveel dat mens die wond van ‘n slangpik uitsuig nie omdat baie min gif so onttrek kan word. Boonop kan dit in die persoon wat suig, se bloedstroom en limfatiese stelsel beland as hy of sy ‘n oop seertjie in die mond het. Sy raad is dat mens liewer dadelik mediese behandeling moet kry.

Hy wys daarop dat slange baie bang is vir mense en net sal pik as hulle vasgekeer of bedreig voel. Hy vermoed die slang wat Robin gebyt het, het gedurende die reddingsproses tussen die mans se liggame beland waar hy vasgekeer gevoel het.

Nog ‘n slangkenner, Conraad Scheepers, beaam Vaughn se mening en bespiegel dat indien Robin deur ‘n giftige slang gepik is, dit moontlik ‘n “droë byt” kon wees. Dit gebeur wanneer ‘n giftige slang om een van verskeie redes nie gif uit sy gifsakkies vrystel wanneer hy pik nie.

Hoe dit ookal sy, Robin en Clarissa glo dat daar ‘n Goddelike ingryping was wat voorkom het dat daar die Sondag enige tragiese nagevolge vir hulle of die jongmense was.

 

 

 

Robin Janse van Rensburg (tweede van links) by die groep jongmense wat ‘n verjaardag gevier het toe twee van hulle in ‘n vinnig-vloeiende stroom beland en byna verdrink het. Robin is tydens die reddingspoging deur ‘n slang gepik. Hy moes dadelik nadat die foto geneem is, aandag aan sy slangbyt gee en het ongelukkig nie die groep se name gekry nie. Heel voor lê een van die jongmans wat gered is. Hoewel hy erg uitgeput was en heelwat water gesluk het, het hy ma die beproewing heeltemal herstel.

 

Die twee gaatjies in Robin se voorarm waar die slang hom gepik het.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button