Die waarde van bordspeletjies

Dalk moet ons Kersvader vra om hierdie jaar meer bordspeletjies te koop.

Hoeveel van ons speel deesdae nog bordspeletjies? Wie onthou nog die lekker ou dae toe ons aande om gelag het terwyl ons bordspeletjies speel en popcorn eet? Vra enige van die ouer garde “wat het julle gedoen voor daar TV was” en jy kan sommer die lekker in hulle stemme hoor as hulle vertel van die speel by kerslig.
Toe ek nou die dag weer in ‘n terapiesessie ‘n ouer raad gee om bordspeletjies te speel met hul kind, het ek besef dat ons die waarde van bordspeletjies as opvoedkundige hulpmiddel totaal onderskat. Daar is soveel vaardighede wat ‘n kind kan aanleer terwyl hul saam met familielede speel.
Om aan te hou konsentreer terwyl dit iemand anders se beurt is, om te tel, en plekkie vir plekkie aan te skuif, om na die reëls te luister, dit te verstaan en dit te volg, om te wag vir jou beurt, om te kyk hoe ander mense wen en verloor hanteer, asook om self te oefen hoe om op te tree as ek nie wen nie, en die emosies wat daarmee saamgaan te voel en te leer beheer. Om te lag oor “die onregverdigheid” van die slegte kaarte wat jy kry, om te oefen om dit nie persoonlik te vat as iemand dalk onnadekend iets sê oor hoe jy speel, om te leer om probleme op te los en vooruit te dink. Om die positiewe in ‘n slegte saak raak te sien EN om te oefen om nie te kroek nie, al is die ander speler se aandag afgetrek.
Dit is maar net ‘n paar van die lekker lewensvaardighede wat ons kinders kan leer deur te speel.
Dit hang natuurlik af van die spesifieke speletjie watter vaardighede meer of minder geoefen word, maar die meeste speletjies is die belegging in tyd en geld werd. ‘n Ander interresante feit is dat die brein baie makliker leer as daar positiewe emosies is – die vaardighede wat ons graag wil leer word dus makliker geintegreer as ons saam kan lag.
Dalk moet ons Kersvader vra om hierdie jaar meer bordspeletjies te koop.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button