Sport

Familie in Parys juig oor Kaylene se Statebond-sukses

* Dinsdagaand, ná Gazette se druktyd, sou Kaylene ook aan die 100m borsslag finaal deelgeneem het.

Die laaste 25m van die 200m borsslag-item het Suid-Afrika se Kaylene Corbett net gebid. En toe die oorwinningsoomblik Sondagaand laat by die Statebondspele in Birmingham, Engeland kom, en sy letterlik oor die wenstreep geseil het, het die vreugde geen perke geken in die sitkamers van haar familie in Parys waar hul vasgenael voor die TV dié item gevolg het.
Kaylene het Sondagaand haar eerste internasionale medalje verower met ‘n skitterende derde plek vir die 200m borsslag.
“Ons is so dankbaar saam met haar. God het haar derde geplaas met so ‘n ‘amazing’ eindpoging. Die hele wêreld praat oor hoe sy so vinnig kon swem in die laaste 50m. Al die eer aan die Here,” het Emma Vollgraaff, Casper en Magriet van Niekerk van Parys, en Ronell Steenkamp van Vanderbijlpark, vandeesweek gesê oor hul kleinniggie se besondere prestasie waarop die hele familie só trots is.
Kaylene se ma, Marly, vertel dat Kaylene op 8-jarige ouderdom begin swem het, en altyd gesê het dat sy Olimpiese Spele toe gaan.
Oor die jare was haar ouers langs die swembad om haar te ondersteun.
In 2015 het sy ‘n groot hoogtepunt behaal toe sy die eerste keer vir die Statebond Jeug Spele gekwalifiseer het.
Daarna het sy verskeie kere internasionaal deelgeneem, maar dit nog nooit reggekry om ‘n individuele medalje te wen nie.
In 2021 het sy saam met Tatjana Schoenmaker aan die Olimpiese Spele in Tokyo, Japan deelgeneem, en saam met Tatjana haar Olimpiese sukses gevier met die geloof dat haar beurt sal kom om op die podium te klim.
En nou was dit haar beurt – iets waarvoor sy al die eer aan die Here gee.
“Dit was fantasties. Ons is so opgewonde vir haar,” sê Emma as sy vertel van daardie skitterende vertoning van Kaylene in die laaste 50m.

Related Articles

Back to top button