Uitdagings van Fauresmith se uithourit-roete kry 13-jarige Karisa nie onder nie

Ruiters kwalifiseer vir die Fauresmith Nasionale Uithourit-kampioenskap deur aan drie 80km uithouritte deel te neem wat hulle suksesvol moet voltooi gedurende ‘n seisoen wat strek van een Fauresmith-rit na die volgende.

Om in minus temperature en digte mis op uitdagende terrein 206km oor drie dae te perd af te lê, verg murg in jou pype. Maar om binne die gegewe tyd klaar te maak en seker te maak jou perd voldoen aan die metaboliese vereistes by die veeartspunte, is nie vir elke ruiter beskore wat die Fauresmith-uitdaging aandurf nie.
Vanjaar was Karisa Nortman, ‘n graad 7-leerder aan Parys Primêre skool, egter een van min ruiters wat die toets met vleuende vaandels kon slaag, en boonop met ‘n vyfde plek in die kategorie vir kinderruiters 10-13 jaar kon spog.
Wat Karisa se prestasie nog meer besonders maak, is dat dit haar eerste Fauresmith Nasionale Uithourit-kampioenskap was waaraan sy deelgeneem het.
Karisa het verlede jaar al vir die nasionale uithourit gekwalifiseer, maar is die kampioenskap weens Covid-beperkings nie gehou nie en moes sy vanjaar van vooraf kwalifiseer.

Minette en Karisa Nortman wat ten spyte van vele uitdagings op vanjaar se Fauresmith uithourit-roete, die rit kon voltooi. Foto: Verskaf

Vanjaar se roete was een van die moeilikstes nóg, vertel Karisa se ma, Minette, wat saam met haar die uithourit gery het. Reëls bepaal dat ruiters eers vanaf 10-jarige ouderdom toegelaat word om langer afstande te ry, en moet hul deur ‘n senior ruiter vergesel word.
Minette self is ‘n ervare ruiter wat al 12 Fauresmith-uithouritte gery het, waarvan sy 10 kon voltooi. Om die Fauresmith-uithourit te voltooi verg baie goeie beplanning met opdraandes wat stadiger gery moet word om die perde se energie te spaar, terwyl daar eerder gedraf moet word op die afdraande sodat daar nie te veel impak op die perde se bene, gewrigte en hoewe sal wees nie. Ervaring en ruiterkuns is van die belangrikste elemente van só ‘n uithourit sodat die perd makliker oor klipperige terrein kan beweeg, en die impak minder is om die risiko van kruppelheid by die perd te verminder. Die baie reën wat die Fauresmith-distrik vanjaar gehad het, het beslis gesorg vir buitengewone uitdagings vir ruiters met ‘n nat roete, en baie spruite wat sterk loop. Die modder en turf het harde spierwerk vereis wat baie perde juis weens mankheid laat uitval het.
Ruiters het gesukkel om ritme op te tel, vertel Minette. Die bergagtige terrein en los klippe weens die baie reën het uitdagings van sy eie gebring. Daarvan getuig die net 43% van deelnemers wat die uithourit kon klaarmaak. Net oor die 300 perde was ingeskryf, en net onder 300 het weggespring.
Terwyl die eerste dag in warm weer gery is, het koue en nat weerstoestande, en ‘n gladde terrein, ruiter en perd op die tweede dag getoets. Die laaste dag is 40km van die ongeveer 55km in digte mis gery, en temperature steeds ysig koud.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version