Goedheid sonder grense in dorp se donkerste ure

Dit was soos die weduwee se kruik - geen einde

Parys se inwoners is sedert Vrydag 1 Julie in die grootste ellende denkbaar gelos danksy Eskom en die Ngwathe munisipaliteit se jarelange stryd oor die munisipaliteit se enorme kragskuld.

Sonder waarskuwing is die verbruiker letterlik en figuurlik in die donker gelos met geen verduideliking. Eers na ure se kragloosheid het mense uiteindelik moes hoor – die krag kom nie gou weer aan totdat Eskom die geld kry wat hy vra van die munispaliteit om skade in die Eskom-substasie te herstel.

Maar vandag, Sondag 3 Julie, drie dae later en met steeds geen betaling aan Eskom, geen krag en geen water is daar ‘n trotse gevoel in my hart vir ‘n dorp en sy mense wat te midde van die donkerste krisis en nood, ingespring en gehelp het om mense se nood te verlig.

Mense van buurdorpe soos Vredefort en vroue van Lindequesdrift, selfs besoekers aan Parys, geen moeite was té veel om te help nie.

Daar is net té veel name om te noem –  maar so-iets het jy nog nie gesien nie.

Sonder krag staan die dorp se water- en rioolwerke en is daar water aangery  met tenkwaens, jo-jo tenks by aftreeoorde en sorgsentrum volgemaak, rondgery om water vir mense te vat, sop gekook, etes voorsien, mediese hulp verleen waar nood was, patrollies gery om te help met misdaad wat ‘n selfs nog hoër risiko is wanneer die krag af is en strate pikdonker, die polisie en bystanddienste, sekuriteitsdienste – almal wat moes help om ‘n wakende oog te hou, mense het op groepe help inligting deel, noodgroepe gestig, wasgoed by tehuise waar verswakte bejaardes is en gewas moes word, gehaal en gewas, mense het hul geriewe en konferensie of oordfasiliteite beskikbaar gestel waar mense kon stort of bad, boorgatwater by huise is beskikbaar gestel, nooddienste en nooddienswerkers het gehelp, parkeerruimtes is beskikbaar gestel vanwaar mense met water en kos gehelp kon word. Donasies is gegee.

Daar is uitgereik na bejaardes, verswaktes, armes, hulle wat geen ander hulp het nie.

Hierdie is een van die punte waar hulp verleen is vandag maar daar was eenvoudig net soveel uitreikaksies dat dit nie moontlik is om almal by die naam te bedank of foto’s van almal te kon neem nie. 

Selfs die Parys Ontwikkelingsforum wat saam met prokureur Lou van Wyk ure lank sonder ophou probeer het om met Eskom te onderhandel, verdien net die hoogste lof vir hul pogings  om ‘n skikking te probeer bereik.

Soveel opregte omgee van Parys, mense van Vredefort, mense van Lindequesdrit, die Vaaldriehoek, Potchefstroom, van oraloor wat die nood van ‘n dorp en sy mense nie net gehoor het nie – maar gehelp het.

Dit was soos die weduwee se kruik – goedheid sonder grense.

Al weet niemand vanaand, Sondag 3 Julie, wanneer hierdie krisis verby sal wees en die ligte in Parys  sal skyn nie – weet ek daar is nog mense wat omgee.

Dankie dankie dankie vir elke een en elke organisasie wat gehelp het.

The copyright to this information and photos resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

Related Articles

Back to top button