Komitee wag steeds op antwoorde oor wie oorbetaling van kontrakteur gemagtig het

Die komitee het gevra dat die aangeleentheid dadelik ondersoek moet word en stappe gedoen word teen wie vir die foutiewe betaling verantwoordelik was.

Komiteelede van Ngwathe se komitee vir Infrastruktuur en Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling wag ná twee maande steeds op antwoorde op kommerwekkende vrae oor ‘n projek van R22,5 miljoen waarmee opgradering aan Vredefort se watersuiweringswerke gedoen is.
Die opgradering sou behels die installering van addisionele pompe en verbetering aan die suiweringswerke self, maar die vermoë van Vredefort se suiweringsaanleg is nie verhoog nie. Dit beteken dat water teen nóg koste na ‘n nuwe uitbreiding aangery moet word.
Dit bloot as gevolg van swak beplanning met die toevoerpyplyn wat steeds ontoereikend is om voldoende water te kan voorsien aan die suiweringsaanleg om in die dorp se behoeftes te kan voorsien.
Toe komiteelede in April vanjaar dié en nog twee ander projekte besoek het, was die Vredefort watersuiweringswerke se opgradering sowat 96% voltooi, maar die tydsverloop daaraan verbonde het toe reeds die beraamde voltooiingstyd by verre oorskry.
Toe is gesê dat die projek weens gebrek aan fondse nie voltooi kon word nie.
Ná ‘n ondersoek het die komitee egter vasgestel dat ‘n kontrakteur vir die projek te veel betaal is. Stappe sou gedoen word om die oorbetaling van sowat R1,6 miljoen terug te verhaal sodat dit in die projekfonds teruggeplaas kan word.
Die komitee het gevra dat die aangeleentheid dadelik ondersoek moet word en stappe gedoen word teen wie vir die foutiewe betaling verantwoordelik was.
Maar vandeesweek het komiteelede steeds nie antwoorde gehad oor wie die finale betaling aan die kontrakteur gemaak het, en waarom dit deur die raadgewende kontrakteur toegelaat is.
Rdl. Saal de Jager wat in die komitee dien, het in ‘n skrywe gevra dat antwoorde voor Vrydag, 1 Julie gegee moet word. So nie, skryf hy, sal hy ‘n ondersoek op provinsiale vlak aanvra.
Ook rdl. Philip van der Merwe, wat in die komitee dien, het vroeër gesê komiteelede is ernstig om beter en strenger toesig oor die verloop van projekte te hou om sy oorsigrol deeglik en konstruktief te verrig. Ook hy het bevestig dat die ondersoek nog net deels voltooi is.
Van die ander projekte waarna gekyk is tydens die komitee se besoek in April, was ook die opgradering van die rioolverwerkingsaanleg in Vredefort, en die bou van ‘n voetganger- en voertuigbrug oor die Elandspruit tussen Sandersville en Heilbron.
Die opgraderingswerk aan die rioolsuiweringsaanleg in Vredefort behels die bou van ‘n nuwe onderdak inlaatstruktuur met skermtoerusting, nuwe chlorineringskanale met doseringstoerusting en herstel/opgradering van meganiese- en elektriese komponente.
Kort na die April-besoek aan die projekte het die Ngwathe raad op 29 April tydens ‘n spesiale raadsvergadering ‘n eenparige besluit van voorneme vir voorkomende skorsing van Ngwathe se tegniese direkteur, Thami Malunga, geneem. Hy is toe sewe dae gegun om redes te gee waarom die vookomende skorsing nie uitgevoer behoort te word nie.
Die raad was juis gedwing om drastiese aksie te neem weens onvoldoende prestasie met sy kapitale projekte.
Die tydperk wat gegun was om redes te verskaf, het op 6 Mei verstryk. Nou, meer as ‘n maand later, sê komiteelede is dit steeds onduidelik wat die posisie van die tegniese direkteur tans is.
Gazette het Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer gevra vir bevestiging oor die aangeleentheid. ‘n Verklaring is nog nie teen Gazette se druktyd ontvang nie, maar sal geplaas word sodra dit ontvang word.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button