Verval van historiese geboue by Potch Landboukollege dui op swak instandhouding

Die eens puik kollege se agteruitgang kan veral in die verval van historiese geboue soos die Selborne-gebou en Administratiewe gebou gesien word.

Daar word groot kommer uitgespreek oor die toename van verval wat op die Potchefstroomse Landboukollege (Pampoenboere) se perseel plaasvind.

Die eens puik kollege se agteruitgang kan veral in die verval van historiese geboue soos die Selborne-gebou en Administratiewe gebou gesien word. Hierdie twee geboue is alreeds op 31 Desember 1976 amptelik deur die regering as ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Die Administratiewe Gebou was die eerste staatsgebou wat vir die Potchefstroomse Landboukollege opgerig was, terwyl die Selborne-gebou die plek was waar die Afrikanerbeestelers-genootskap in 1912 gestig is.
Nou is dit geboue met stukkende venters en afgedopte mure waar onkruid om dit groei.

Dr. Theo de Jager, die uitvoerende voorsitter van die organisasie, Saai, het in ‘n ope brief aan die bestuur van die Potchefstroomse Landboukollege, sy misnoeë rondom die verval verwoord.

“Ons is woedend oor die skokkende toestand. Nie so lank gelede nie was dit ‘n sentrum van uitnemendheid met ‘n diepgewortelde tradisie om van die beste boere en voorligtingsbeamptes in Afrika op te lei. Die eens trotse kampus het nog ‘n skandelike monument geword vir die regering se onbekwame, wanbestuur en verwaarlosing van infrastruktuur. Ons het genoeg daarvan gehad,” noem de Jager.

Van die vervalle historiese geboue op die Landboukollege se perseel. Hierdie foto is in 2021 geneem. Foto: Annelise Lange.

De Jager lê ook klem op die verval wat ander geboue by die Landboukollege ook tref weens geen instandhoudingswerk.

Hy lig uit dat daar verskeie lekkasies op die perseel is, dat diere en vee ondervoed is en gevolglik mishandel word en dat hulle in vuil toestande aangehou word.

Van die uitgeteerde beeste by die Landboukollege. Foto: Verskaf

“Die skape word verkeerdelik hoendervoer gevoer en nie voldoende versorg nie. Verskeie van die melkbeeste het mastitis, wat onbehandeld bly, en die beeste is ook ondervoed,” noem hy.

DA raadslid, Chris Hattingh, noem dat die verval by die Landboukollege al ‘n geruime tyd vererger.

“Daar was al verskeie ondernemings gewees om die Landboukollege te verbeter, maar dan stop dit. Dit is skokkend dat ‘n nasionale gedenkwaardigheid so kan verval,” meen hy.

Hattingh noem ook dat daar gereeld ook klagtes is oor die standaard van opleiding by die Potchefstroomse Landboukollege, die afgelope paar jaar.

“Daar is ‘n groot gebrek aan beplanning en instandhouding wat lei dat die infrastruktuur verval en dit die kwaliteit opleiding beïnvloed.”

Johan Wolfaardt, voorsitter van Heritage Potchefstroom Erfenis, is eens dat daar geen daadwerklike plan is om die gedenkwaardighede by die Landboukollege te beskerm nie. Hy noem dat die Departement van Openbare Werke verantwoordelik is om die historiese geboue in stand te hou.
“Die geboue by die Landboukollege is van groot argitektoniese waarde. As iemand op nasionale vlak nie ingryp nie, dan sal daar ook nie iets gebeur om die gedenkwaardighede te beskerm en te onderhou nie. Daar was al baie planne maar niks gebeur nie. Erfenis is nie die belangrikste saak van bespreking tydens raadsvergaderings nie.”

Hy noem ook dat daar voorheen gevalle was waar die sekuriteitsbeamptes toegang tot die perseel verhoed het.

“Wanneer daar foto’s van die verval geneem word dan stop die sekuriteit ‘n mens om in te gaan.”

Die Potchefstroomse Landboukollege het nog nie teen druktyd op die Herald se navrae gereageer nie.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button