Dis net voete en wiele en kiekies by die Vaal

Spitsverkeer om die Vaal se water te sien bokspring

 

Dit wemel van waterkykers in Parys! Oral langs die rivieroewer ry motors in slakkepas gelid, arms by die venters uit om ‘n kiekie te neem, want die Vaal is lanklaas só gesien.

Sy baldadige bokspringe word van alle kante af afgeneem – by die laagwaterbrug na Gholfeiland wat steeds onder water is, by die hangbrug, by die punt van Fickstraat waar hy gisteraand al gevat-vat het aan die sypaadjie-randsteen, by Grewarlaan, die brug oor die Vaalrivier by Egweni River Lodge.

 

Hier is besoekers van heinde en ver.  Op pad terug van die Kaap onderweg na Meyerton, is daar eers in Parys gestop om die Vaal se water te kyk.

Kan jy glo waar die wit merk teen die boom is, was die water in 1970, vertel van die inwoners. 

Op die brug oor die Vaalrivier op die Vrystaat/Noordwes-grens net voor jy uit Parys ry. Oral word daar foto’s geneem van die Vaal se magtige gedruis. 

Daar is sitplek in die water. 

Die verhoogde laagwaterbrug na Gholfeiland in Parys, is ook onder water en tans gesluit vir verkeer. Vroeër jare was die ou laagwaterbruggie gereeld onder water as die riviervlak gestyg het, maar is die brug na Gholfeiland later verhoog. 

 

Die foto is aan die  Feesgronde-kant van die Parys Golf & Country Estate geneem. Foto: Verskaf

 

Die foto is by Egweni River Lodge in Parys geneem waar die prag graffiti-kunswerke teen die brugpilare ook al in die water staan. Foto: Verskaf

Oral is dit aan die beweeg langs die oewer. Mense stap, ry fiets – almal kyk water. En hier en daar ‘n paar brawes wat die roeispane optel want die Vaal se water is wild. Daar is tans 8 sluise oop by Vaaldam soos wat ook gister, Woensdag 20 April, die geval was.  

 

Related Articles

Back to top button