Soveel gaan jy nou betaal vir munisipale dienste; elektrisiteitstarief skok wag

Soveel gaan jy nou betaal vir munisipale dienste; elektrisiteitstarief skok wag

 

Ngwathe se nuwe uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer, het verlede Donderdag haar eerste begrotingsvoorstelle aan die raad voorgelê. Dis eenparig goedgekeur vir openbare bespreking en raadpleging gedurende April en vroeg in Mei.

* Ngwathe se  munisipale belasting sal styg met 4.8% (onderhewig aan ‘n 10% afslag op sakepersele).

* Munisipale dienstariewe (soos water, riool en afval) styg met 6.0%, behalwe elektrisiteit wat, hoofsaaklik as gevolg van verdere groot Eskom-verhogings, styg met 12.8% (verder nog onderhewig aan goedkeuring deur Nersa, die reguleerder van elektrisiteitspryse).

Die begrotingsvoorstelle voorsien totale bedryfsuitgawes oor die jaar heen van R937 miljoen, en net meer as R135 miljoen in kapitaalbesteding (dit wil sê uitgawes op vaste of te wel kapitale bates). Met beplande uitgawes van een miljard rand, laat dit ‘n baie groot bedryfstekort van R63 miljoen.

Die burgemeester het gesê Ngwathe se groot geldprobleme word vererger deur die swak ekonomie as gevolg van Covid, wat dit bemoeilik om inkomste in te vorder. “Ons agterstallige Eskomskuld bly steeds ‘n kopseer, maar ons werk hard om die elektrisiteitsverlies om te keer,” het sy gesê.

DA-raadslede het gesê dat hulle meer besteding aan infrastruktuur (soos strate, kraglyne, waterpype en watersuiwering) wou sien, maar dat Ngwathe reeds té min geld vir al sy lopende uitgawes het.

DA-raadslid, Arnold Schoonwinkel, Ngwathe se DA-segsman oor munisipale finansies, het opnuut voorgestel dat die raad daarom sy bestaande finansiële komitee opdrag gee om dringend te fokus op kostebesparings sonder om diensgehalte te verswak. “Ons moet uitvind hoe om meer gedoen te kry met ewe veel geld, deur vrugtelose en onproduktiewe uitgawes, asook korrupsie hok te slaan.”

Hy het gesê die komitee is reeds verlede jaar ook gevra vir voorstelle oor hoe om ‘n inkomste te verdien uit Ngwathe se talle onbenutte bates, soos die Mimosa-tuine, Heilbron se ontspanningsoord en verhuurbare behuising en persele wat die munisipaliteit oral besit.

“Ons moet kenners vra vir insette en veral ons sakelui,” het Schoonwinkel bygevoeg.

Rdl. Phillip van der Merwe  (Vryheidsfront Plus) het gesê die begrotingsvoorstelle benodig wysigings, onder meer omdat die begrotingsbeleidsdokumente steeds plek-plek die nuwe tariefstruktuur weerspreek.

Tariewe moet ook vereenvoudig word. Hy het tevore reeds gekla dat riooltariewe byvoorbeeld vier soorte besigheidsverbruikers vermeld, maar vir elektrisiteit bestaan daar slegs twee kategorieë.
“Ons moet dit dringend regstel,” het rdl. Van der Merwe gesê, en is dit só aanvaar.

Hy het ook gemaan dat daar nie soveel op die Eskom-skuld gekonsentreer moet word dat betaling van ander krediteure agterweë bly nie. Wetgewing verplig munisipaliteite om alle krediteure binne 30 dae te betaal.

Die volledige begrotingsvoorstelle is nou op Ngwathe se munisipale webtuiste, en ook vir insae by alle munisipale kantore en openbare biblioteke beskikbaar. Inwoners sal ingelig word oor die plek en tye van openbare besprekings waar vrae gevra en wysigings voorgestel kan word.

Related Articles

Back to top button