44 000 blomme met die hand gevou vir 5 meter hoë kruisvlot

44 000 blomme met die hand gevou vir 5 meter hoë kruisvlot

 

Die afgelope paar weke was daar ‘n gewerskaf van ‘n ander wêreld in dié klein Vrystaatse dorpie, Vredefort. Daar’s bome gesaag, rommel weggery, gras gesny, geboue geverf, sypaadjies mooi gemaak – en die werk is lank nie klaar nie.
Maar wat sit agter die operasie regruk? Net twee woorde – Die Kruistog – ‘n projek wat deur mense van Vredefort en die distrik aangepak is om Paasfees vanjaar iets besonders te maak.
Hulle wou hê dat dit meer moes wees as net ‘n erediens op Goeie Vrydag.
Die groep passievolle mense uit verskillende kerk-agtergronde het skouer aan die wiel gesit vir hul droom om mense ‘n belewenis te gee van die pad wat Jesus moes stap na sy eie kruisiging op Golgotha.
‘n Roete van 3km is uitgelê deur Vredefort en elkeen wat deelneem bring ‘n kruis saam om die roete saam met die konvooi te stap op Goeie Vrydag, 15 April.
Die vlot:
Vlotte is ‘n bekende gesig tydens die jaarlikse “Jool” van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, maar vir die eerste keer sal Vredeforters ook so iets kan beleef. Die jeug van Dinamika-gemeente in Vredefort het besluit om ‘n vlot te bou met ‘n groot wit kruis om die kruistog te lei.
Die wit kruis wat 5m hoog sal staan, word gepak met sowat 44 000 plastiek blomme wat almal met die hand gevou word.
Die program:
Die dag se bedrywighede skop om 10:30 af by die Vredefort-sportgronde met ’n voorprogram van sang gelei deur Richann Brüssow wie se sangtalent geen bekendstelling nodig het nie. Om 11:00 sal daar dan vanaf die sportgronde beweeg word op die roete.
Die pas sal gematig wees, en kinders sowel as bejaardes sal gemaklik kan stap, en elkeen kan teen sy eie tempo vorder. Mense kan in groepe, of as individue stap, daar is nie reëls met betrekking tot die stap nie. Die roete behoort nie meer as ‘n uur te neem nie. Vir diegene wat nie kans sien om te stap nie, sal daar twee wildbesigtigingsvoertuie wees wat mense op die roete kan neem.
Sou daar verder behoefte wees, kan kruistoggangers ook met hulle voertuie agter die konvooi aanry, alhoewel die organiseerders die voertuie in die konvooi so min as moontlik probeer hou ter wille van verkeersreëlings.
Wanneer die kruistog teruggekom het tot by Vredefort se sportgronde, en die grootste aantal mense die roete voltooi het, sal die organiseerders almal nooi om saam nagmaal te gebruik. Wanneer die nagmaal klaar is, sal die dag afgesluit word. Dit behoort omstreeks 13:00 te wees. Almal is welkom om ná die afsluiting steeds te bly en saam te kuier. Daar sal kosstalletjies wees, maar jy kan ook ‘n piekniekmandjie met jou eie eet- en drinkgoed bring.
Om Die Kruistog aan te bied wou die organiseerders hê dat die dorp netjies sal vertoon. Daarom het die span die munisipaliteit gaan sien, en ‘n goeie samewerkingsooreenkoms het begin om Vredefort netjies te kry.
Oor die afgelope paar weke het ‘n hele klomp vrywilligers ingespring en begin help.
Hulle wil nog die dorp se ingange mooi maak, parke se beddings regmaak, besighede help om dakke te verf, die spuitfontein weer laat spuit, randstene op die sypaadjies verf, en ‘n paar blombeddings weer lewe gee.
Daarom is ‘n beroep gedoen op Vredefort se inwoners en andere wat bereid is om te help, om hand by te sit. In ‘n klein dorpie maak ‘n bietjie harde werk ‘n baie groot verskil!
Wat bring jy saam vir Die Kruistog op 15 April?
‘n Hoed en sonskerm (sambreel is dalk ook ‘n opsie)
‘n Kruis (tuisgemaak of gekoop, enige vorm of grootte)
‘n Kampstoel (as jy nie op die gras wil sit tydens die opening nie)
‘n Paar rand (vir die kos- en koeldrankstalletjies)
Gemaklike klere (die drag is informeel)
Gemaklike stapskoene
Daar is geen koste aan verbonde om deel te neem nie – kom net soos jy is. As jy vrae het, wil help met die vlotbouery of die netjies maak van die dorp, skakel Juan Greeff by 079 874 1860. Gaan kyk ook na die webblad www.kruistog.co.za

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button