R30 gaan gesluit word ná gesinstragedie

Dit kan nie so aangaan nie

 

 

Die R30 sal later vanaand (Dinsdag 29 Maart) of Woensdagoggend 30 Maart gesluit word ná nooddienswerkers Maandag ’n desperate pleidooi tot owerhede gerig het om dringend te kyk na die veiligheid van motoriste op die R30 tussen Bothaville en Allanridge. Dit volg nadat die soveelste emosionele toneel die afgelope twee maande, hom Maandag op dié pad afgespeel het toe polisieduikers die liggame van ‘n ouerpaar en hul twee dogtertjies, onderskeidelik 2 en 4 jaar oud, uit die water van ‘n pan weerskante van die R30 moes haal.  

 

Die tragiese toneel Maandag waar duikers die motor van ‘n gesin wat Maandag hier langs die R30 tussen Bothaville en Allanridge gesterf het, na die oppervlak gebring het. Foto: Verskaf

 

Dit bring die dodetal op dié gedeelte van die pad sedert 29 Januarie nou op 19 te staan met nog minstens 42 mense wat hier in ongelukke beseer is wat byna daagliks op die pad gebeur het.

Volgens ‘n verklaring van die kantoor van die polisie se provinsiale kommissaris in die Vrystaat, was die gesin van die Oos-Kaap na Orkney onderweg toe die bestuurder van die voertuig beheer verloor, en die voertuig die pad verlaat het. Lede van die Allanridge polisiestasie het Maandagoggend omstreeks 03:00 ‘n oproep van die suster van een van die oorledenes gekry om hulp te vra, nadat haar suster haar kort ná die ongeluk gebel het om te sê dat hul motor in die water is. Polisieduikers ao. Rudolf Kruger, ao. Norman Kuhn en sers. Carel Gagiano is na die toneel, en is die voertuig ná ‘n soektog onder die water gekry en na die oppervlak gebring. Al die insittendes is op die toneel dood verklaar.

Hoewel daar duidelike spoedborde en waarskuwingstekens weerskante van die pad is, is daar nie veiligheidsrelings nie, en vind die meeste ongelukke op die pad saans en in die vroeë oggendure plaas. Die vermoede is dat mense moontlik beheer oor hul voertuie verloor wanneer hulle te vinnig van die geteerde deel van die pad na die verhoogde grondgedeelte beweeg. Maandagoggend se ongeluk volg nadat daar Donderdag, Vrydag en Saterdag ook motors in die water beland het. Hoewel niemand in verlede week en die naweek se ongelukke beseer is nie, het Maandagoggend se vier sterftes opnuut weer die vraag laat ontstaan – hoeveel moet nog sterf op dié pad?

Die pad het vroeg in Februarie oorstroom ná swaar reën wat groot skade aan die teervlak aangerig het. ’n Kontrakteur is aangestel en is werk aan die pad vroeg in Maart voltooi, en waarskuwingstekens en spoedborde aangebring.

Hoewel baie motoriste wat daagliks die pad ry, gesê het dat hulle van mening is dat die pad veilig genoeg is om te gebruik, is spoed en die verontagsaming van waarskuwingstekens geblameer vir dié voortslepende padslagting.

Die Departement van Polisie, Paaie en Vervoer het Dinsdagmiddag aangekondig dat die R30 tussen Welkom en Allanridge met onmiddellike effek gesluit sal word. Die publiek is aangeraai om die S1075 en R71 tussen Bothaville en Allanridge te gebruik. Tussen Welkom en Kroonstad kan die R34 gebruik word. Voertuie wat in die rigting van Orkney beweeg, kan die R76 via Viljoenskroon gebruik. Addisionele waarskuwingsborde sal op die R30 aangebring word om mense in te lig van die alternatiewe roetes.

Mense is gevra om nie die die waarskuwingsborde op die R30 te verwyder of onwettig van die pad gebruik te maak totdat dit weer oopgestel word. 

 

 

Exit mobile version